
STREEP VIR STREEP
V: Hoe word ’n sebra gebore?
A: Streep vir streep.
QUINTON HURTER, VANDERBIJLPARK
BANG BYE
V: Waarvoor is bye die bangste?
A: Moerbeie.
QUINTON HURTER, VANDERBIJLPARK
JY MOET STOP!
Die blondine stop nie met haar kombi by die rooi verkeerslig nie en tref ’n motor. In die kombi is baie klein kindertjies. ’n Verkeerskonstabel wat alles sien gebeur het, stap na die kombi toe. ‘‘Weet jy nie wanneer om te stop nie?’’ vra hy streng.
‘‘O,’’ bloos sy en kyk verleë na al die kinders in die kombi, ‘‘dis nie almal myne nie!’’
A. BENADÉ, WIERDAPARK
HOOP KLIPPE
Piet is saam met Koos op sy plaas waar hulle en ’n paar ander manne jag. In die middel van ’n voetpad brand ’n lantern.
‘‘En die lantern, Koos?’’ vra Piet.
‘‘Ek het dit daar gesit sodat die manne nie in die donker oor die hoop klippe val nie,’’ antwoord Koos.
‘‘En hoekom is die klippe daar?’’
‘‘Vir die lantern om op te staan, natuurlik,’’ antwoord Koos.
A. BENADÉ, WIERDAPARK
VRY IS GRATIS
Die skoolhoof kom onverwags by sy kantoor in en betrap die sekretaresse van die skool en die sportonderwyser in ’n vurige omhelsing. Toe hulle hom sien, spring hulle vervaard van mekaar af weg.
‘‘Is dit waarvoor julle betaal word?’’ bulder die skoolhoof.
“Nee, Meneer,’’ antwoord die sportonderwyser, “dit doen ons sommer gratis.’’
A. BENADÉ, WIERDAPARK
TRONKKODES
Die departement van korrektiewe dienste het met ’n nuwe plan begin. Al die misdadigers in tronke gaan ’n kode op hul rug kry sodat al die ander kan weet waarvoor hulle in die tronk is.
Hier volg ’n gesprek tussen ’n nuwe inwoner in die tronk met ’n paar ou manne:
Nuweling: ‘‘Waarvoor staan die PM op jou rug?’’
Ou man: ‘‘Poging tot moord.’’
Nuweling: ‘‘Hoeveel het jy gekry?’’
Ou man: ‘‘20 jaar.’’
Nuweling: ‘‘Waarvoor staan daai GR op jou rug?’’
Ou man 2: ‘‘Gewapende roof.’’
Nuweling: ‘‘Hoeveel het jy gekry?’’
Ou man 2: ‘‘10 jaar.’’
Nuweling: ‘‘Waarvoor staan daai BMMP?’’
Ou man 3: ‘‘Brand mense met petrol.’’
Nuweling: ‘‘En hoeveel het jy gekry?’’
Ou man 3: ‘‘So vier op ’n liter.’’
SHAUN MILLER, MITCHELLS PLAIN
DIE NEGENDE
Gatiep vra vir Meraai: ‘‘Waarna luister jy?’’
Meraai: ‘‘Dis Beethoven se negende.’’
Gatiep: ‘‘Dan is dit ok ma’ goed ek het die eerste agt gemis!’’
Y. VILJOEN, KIRKWOOD
Lees nog grappe in Huisgenoot van 22 Oktober.