Tuesday, 13 October 2009

Dr. Adri gee raad


TE VEEL TE GOU
My man is ’n jaar gelede oorlede. Ná sy dood het ek dorp toe getrek waar ek ’n huis saam met my dogter en skoonseun gehuur het. Toe my ander dogter vra of ek nader aan hulle wil kom bly, het ek weer verhuis. Dit was dalk ’n fout, want ek is glad nie gelukkig hier nie. Ek bly baie naby my dogter, maar is eensaam, want ek het geen vriende nie en die kinders is altyd “te besig”. Ek is nou ses maande hier en hulle was nog nie hier by my nie. Waar ek vandaan kom, het ek baie vriendinne en ’n klein onderneming gehad. Ek het dit oorweeg om terug te trek, maar het nie die krag om ’n derde keer in een jaar te trek nie. Ek is 53 jaar oud, maar voel stokoud. Ek het ’n groot behoefte aan liefde, aanvaarding en vriendskap. Ek het soveel liefde om te gee, maar niemand vir wie ek dit kan gee nie.
KAN NIE MEER NIE

DR. ADRI ANTWOORD
Ja, jy het dalk te veel ingrypende veranderinge in jou lewe aangebring. Elke mens wat ’n lewensmaat verloor, beleef enorme trauma en ontreddering en moet die kans gegun word om eers weer sy of haar balans te vind. Jou dogter is selfsugtig. As jy jou ma vra om nader aan jou te woon, maar haar in ses maande nog nie besoek het nie, dan is jy nie juis gretig om jou ma te ondersteun nie. Haar behoort ’n vingerwysing te wees vir alle ouer mense – dink gerus maar heel eerste aan jouself voor jy soortgelyke besluite neem. Jy is nie oud nie; jy voel net so. Gee jou nuwe omstandighede ’n regverdige kans voor jy besluit om te trek. Besluit oor ’n jaar of wat of jy wil teruggaan. Wees kalm en gaan waardig deur jou routydperk. Daar is wel een ding wat jy beslis nie moet doen nie: Moenie te gou weer trou nie.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 22 Oktober.