Monday, 23 November 2009

Kookboek-bonanza


Franschhoek Food deur Myrna Robins (R340, Struik Lifestyle)

Franschhoek is ’n mekka vir al wat kos- en wynliefhebber is. Die bekroonde kos-wyn-en-reisskrywer Myrna Robins het by 18 eetplekke gaan eet en van hul gewildste geregte afgeskryf – van fynkos en bistro-kos tot Kaapse, Afrika- en Franse resepte kom van bekende sjefs soos Topsi Venter, Reuben Riffel, Margot Janse, Neil Jewell en Matthew Gordon.

Slaai van gerookte hoender en perskes

By die loslit-bistro French Connection in Franschhoek kry jy eenvoudige, goed bereide kos waarvoor plaaslike en oorsese gaste keer op keer terugkom.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 minute
Gaarmaaktyd: 3-5 minute

SLAAISOUS
50 g vars dragon, fyn gekap; 150 ml goeie mayonnaise; 50 ml crème fraîche; 50 ml gerookte olyfolie; sout en peper na smaak
SLAAI
3 ryp maar ferm rooiwangperskes, ontpit en in wiggies gesny; 50 ml olyfolie; 150 g boerboontjies, uitgedop, of mangetout; 150 g vars groen aspersies en 500 g gerookte hoenderborsies, ontbeen en in netjiese skywe

SLAAISOUS Klits al die bestanddele saam met ’n handmenger en hou eenkant.

SLAAI Verf die perskeskywe met olyfolie en rooster op ’n warm gietysterpan, onder die roosterelement van die oond of oor die kole. Rooster sowat 1 minuut aan elke kant tot effe geskroei. Laat afkoel.

Blansjeer die boerboontjies of mangetout en aspersies sowat 30-60 sekondes in kook-water, dreineer en verfris in koue water. Hou in die yskas tot benodig.

Pak die hoenderborsies en perskeskywe op 4 eetborde of andersins op een groot opdienbord. Rangskik die groente bo-op en sprinkel die gekapte ui en tamatie oor. Drup van die slaaisous oor. Garneer met bronkors.

Sien nog resepte uit ’n keur van vanjaar se kookboeke in Huisgenoot van 3 Desember.

ʼn Geldige erflating


Dit maak nie saak hoe goed jou eksekuteur is nie, as jou testament verkeerd opgestel is, kan dit jare duur om uit te sorteer. Gelukkig is dit nie moeilik om seker te maak dat jou testament geldig is nie.

Wat is die minimum vereistes van ’n geldige testament?

Die Wet op Testamente vereis eerstens dat die erflater 16 jaar of ouer en handelingsbevoeg moet wees. Jou testament moet ook op skrif wees en jy moet elke bladsy in die teenwoordigheid van twee bevoegde getuies onderteken. Bevoegde getuies is mense van 14 jaar of ouer wat handelingsbevoeg is om in ’n hof te kan getuig. Die getuies moet ook die laaste bladsy onderteken. Sommige trustmaatskappye of regslui wat testamente opstel, verkies dat elke bladsy voluit deur alle partye onderteken word.

Wie moet jou testament opstel?
Enige persoon kan sy of haar testament opstel of laat opstel, maar dit is belangrik dat die opsteller die ervaring en kennis het om dit reg te doen. Die opsteller moet ook op hoogte wees van die nuutste boedelbeplan-ningstegnieke en veranderinge in die finansiële bedryf en die reg wat ’n testament kan beïnvloed. Die opsteller moet ook finansieel sterk wees, want hy of sy sal moet kan instaan vir enige moontlike geslaagde eis vir skadevergoeding wat mense kan ly weens ’n foutiewe of ongeldige testament.

Die Wet op Prokureurs skryf voor wie vergoeding mag vra vir die opstel van ’n testament. Dis ’n ingewikkelde wet, maar kom kortliks daarop neer dat onder meer praktiserende prokureurs, eksekuteurskamers of trustmaatskappye wat amptelik op 27/10/1967 geregistreer was, asook praktiserende geoktrooieerde rekenmeesters vergoeding mag vra. Die vergoeding verskil, maar kan jou van R300 tot baie meer as R1 000 uit die sak jaag. Vra dus vooraf wat die vergoeding is. Sommige instansies vra nie vergoeding vir die hersiening van ’n bestaande testament of om dit te bewaar nie.

Lees die volledige artikel in Huisgenoot van 3 Desember.

Dr. Adri gee raad


VERBODE LIEFDE
Ek is lief vir iemand, maar sal nooit saam met dié mens kan wees nie. Hoe vergeet jy van die een wat jy liefhet? Herstel jy ooit daarvan? Ek is 22 en begin al grys word van al die verlange!

Elke keer kyk die persoon my diep in die oë, maar ek weet dit kan nie wees nie. Ek worstel nou al twee jaar hiermee. Hoekom kry ’n mens iemand anders liewer as jou eie lewe? Ek verstaan dit nie, want as iets nie mag en kan wees nie, hoekom groei dié innige liefde sonder ophou?
WILLEM

DR. ADRI ANTWOORD
Kyk, die dekselse liefde sláán ’n mens – of jy nou 16, 22 of 88 is. Die liefde maak ’n ou man ’n jong, hupse hings wat vir baie dinge kans sien, en ’n jong man van 22 grys. Dis hoe dit werk!

Omdat die liefde so ’n belangrike deel van die mens se lewe is, gaan dit nooit met flou emosies gepaard nie. Nee, ware liefde vra vurigheid en drif en algehele oorgawe.

Jy sê nie in jou brief waarom jy nooit by jou geliefde kan wees nie. My intuïsie sê dis ’n ander man vir wie jy so lief is. As dit die geval is, moet jy dalk nie die liefde bevraagteken nie, maar eerder jou eie bereidwilligheid om eerlik te wees. Ek hoop jy neem die regte besluit, want jy sal net gelukkig wees as jy werklik eerlik leef. En wie weet, dalk kan jy dan wel by jou geliefde uitkom.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 3 Desember.

Boeke


TATTA, DOEKE deur Martie Kruger en Susie Appleby *** (Lapa-Uitgewers, R66,95 elk)

Christiaan soek hot en haar na iets wat verskriklik sleg ruik. Is daar ’n olifant in die huis? Of ’n leeu? Of sy babasussie se doek? Maar dan onthou hy hy dra self nog doek en dis al die tyd waar die reuk vandaan kom.

Wie ken nie die stryd om ’n kleintjie van doek tot onderbroek te kry nie? Hierdie oulike boekie (met sy ewe oulike illustrasies) is ideaal vir voorlees as jy besluit dis tyd dat die potjie nadergesleep moet word en doeke moet plek maak vir onderbroekies.

Die storie is baie simpatiek geskryf en sal geen druk op die kind plaas of hom laat sleg voel dat hy nog glipse kry nie. Daar is drie ander boekies in die Mylpaal-reeks wat ouers help om die kleingoed belangrike mylpale te help hanteer: Kleuterskool toe!, ’n Boetie vir Natasha en Die Mangelvanger. Agterin elk word nuttige wenke gegee oor hoe om die meeste uit die boeke te kry.

THE WELCOME VISITOR deur John Humphrys en dr. Sarah Jarvis **** (Hodder & Stoughton, R209,95)

Is daar iets soos die goeie dood? John Humphrys dink so. Die veteraan-uitsaaier van die BBC en joernalis beywer hom saam met Sarah Jarvis, ’n mediese dokter, vir vrywillige genadedood vir terminaal siek mense.

Humphrys praat uit persoonlike ondervinding. Hy moes toekyk hoe sy pa in ’n hospitaal ly en voel hy het hom in die steek gelaat omdat hy hom nie kon help nie.

Dit is ’n ongemaklike onderwerp, maar die boek is nie neerdrukkend nie. Die gevallestudies is byna ondraaglik roerend en dis moeilik om nie saam te stem nie dat as sulke lyding beëindig kan word, ’n mens toegelaat moet word om dit te doen.

Natuurlik is genadedood oop vir allerhande misbruik – soos naasbe-staandes wat nie kan wag om te erf nie – maar die skrywers is oortuig dat dit met sensitiwiteit en ’n intelligente hantering van die wet vir baie verligting kan bring.

Huisgenotjies


STUURWIEL
Die man ry heen en weer oor die pad. ’n Verkeersman keer hom voor en sê: “Jy is dronk!”
“Dankie tog,” sug die man, “ek het gedink die stuurwiel het gebreek.”
RIKUS CARSTENS, SASOLBURG

DIS NOU HAASTIG
Koos was die ander dag so haastig toe hy die oggend laat was vir werk dat hy eers toe hy hom afdroog, agtergekom het hy het nooit gestort nie!
R. PRETORIUS, JOUBERTINA

BLOMPOT
Landdros: “Gamat, hoekom het jy die man met ’n blompot oor die kop geslaan?”
Gamat: “Djou onner, hy het my in broken English ge-insult, toe antwoord ekke met broken China!”
S. DE WAAL, BELHAR

GEEN VASTRAPPLEK
Jonas, wat al sy lewe lank op die plaas woon, het altyd saam met die boer in sy ou gehawende motor gery. En as die motor gaan staan, dan moes Jonas uitklim en stoot.
Op ’n dag vat die boer Jonas saam na ’n lugskou. Een van die vlieëniers bied toe aan dat Jonas saam met hom kan vlieg, maar Jonas weier. Toe die vlieënier wil weet hoekom, sê Jonas: “Sê nou net daai ding gaan staan doer bo in die lug. Waar gaan ek vastrapplek kry om hom weer aan die brand te stoot?”
S.D.P. SCHOONRAAD, LADYSMITH

ALTYD REG
’n Vrou is altyd reg. Soms dalk deurmekaar, oningelig, reguit, hardkoppig, spandabelrig en plein onnosel, maar nooit, ooit verkeerd nie!
S. MACKAY, PORT ELIZABETH

NET SEKS
Die dominee doen huisbesoek in die ouetehuis.
“Nou, Tante, sê my, wat doen julle elke dag?” vra hy vir een inwoner.
“Die hele tyd net SEKS,” sê die tante.
Die dominee is uit die veld geslaan. “Regtig, Tante?”
“Ja, Dominee,” antwoord sy. “Dis net sit, eet, klets en slaap – s-e-k-s!”
S. MACKAY, PORT ELIZABETH

SUINIGE SKOT
Die Ier besoek sy erg suinige Skotse vriend. Hy is besig om plakpapier van die mure te stroop.
“Knap jy jou huis op?’’ vra die Ier.
“Nee,’’ antwoord die Skot. “Ek trek.’’
M.J. LOURENS, LYTTELTON

KATVIS
V: Watter vis is deur die hond gejaag?
A: Die katvis.
M. SUKDEO, DURBAN

Lees nog grappe in Huisgenoot van 3 Desember.

Thursday, 19 November 2009

Kies so ʼn eksekuteur


’n Belangrike aspek met die opstel van jou testament is wie om as eksekuteur te benoem. En natuurlik die koste daarvan.

Koste eerste: Eksekuteurs se vergoeding word ingevolge die Boedelwet vasgestel en is tans 3,5 persent + BTW van die bruto waarde van die bates in die boedel soos op die sterfdatum van die oorledene, sê Willie Fourie van PSG Konsult Trust. Dis wel onderhandelbaar, mits die eksekuteur ook betrokke was by die boedelbeplanning en die opstel van die testament. As die eksekuteur glo potensiële probleme met die bereddering van die boedel het reeds aandag geniet terwyl die boedeleienaar nog gelewe het, sal afslag oorweeg word.

As jy dus ’n instansie soos ’n trustmaatskappy of ’n individu soos ’n prokureur of ’n familievriend met die nodige kennis as eksekuteur in jou testament benoem, kan jy vir afslag onderhandel en dit so in die testament aanbring. Die afslag sal afhang van die grootte van jou boedel en hoe ingewikkeld dit is.

As die vergoeding nie in die testament genoem word nie, sal dit volgens die wetlike voorgeskrewe tarief wees, tensy die Meester van die Hooggeregshof bepaal dat dit verlaag kan word. Die Meester kan vergoeding na goeddunke verhoog of verlaag, waarsku Willie.

Ingevolge die Boedelwet hoef ’n eksekuteur nie benoem te word vir ’n boedel kleiner as R125 000 nie om beredderingskoste op sulke kleiner boedels te spaar. Die Meester stel dan ’n gevolmagtigde aan wat ’n Meesterverteen-woordiger genoem word. Die boedels kan deur die erfgename, familie of ’n vriend afgehandel word, mits sekere voorwaardes nagekom word soos dat die boedel solvent is.

Jy kan jou eie eksekuteur kies, maar as die persoon droogmaak, kan dit jou erfgename baie probleme besorg en duur te staan kom. Die Meester het wel die mag om nie die benoemde eksekuteur aan te stel nie.

Mense wat hy nie sal aanstel nie, is byvoorbeeld ’n ongerehabiliteerde insolvent, minderjariges of iemand sonder handelingsbevoegdheid soos ’n verstandelik gestremde, iemand in die buiteland met geen straatadres as woonplek in Suid-Afrika nie, of ’n persoon of instansie wat nie aan spesifieke regulasies en wetgewing voldoen nie.

Lees meer hieroor in Huisgenoot van 26 November.

Dr. Adri gee raad


DIE TWEEDE KEER ONGELUKKIG

My eerste huwelik was ’n ramp. ’n Paar jaar ná my egskeiding is ek weer getroud. Ons is nou ’n jaar getroud. Kort ná ons troue het my man sy werk bedank omdat dit nie opwindend genoeg was nie en hy het nog nie weer werk gekry nie. Nou sit hy by die huis en verwyl sy ure met rekenaarspeletjies en, ja, die internet se porno-tuistes. Ons het maande laas seks gehad. As dit gebeur, moet ek die aanvoorwerk doen.

Volgens my man lê die probleem by my. Ek was al by twee sielkundiges, en albei sê dis futiel as hy nie bereid is om ook deel te wees van die terapie nie.
Hy het al verskeie kere sy goed gepak en verdwyn. As hy terugkom, verwel-kom ek hom met ope arms. Hoekom kan ek hom nie net los nie? Ek wil nie op 40 twee keer geskei wees nie, want dit voel asof ek dan net ’n mislukking sal wees.
BAIE BANG

DR. ADRI ANTWOORD

Hoekom dink so baie vroue hulle kan net gelukkig wees as hulle getroud is? Hoekom sien vroue kans om die moeilikste take ter wêreld aan te pak, soos om ’n kind groot te maak en ’n uitdagende beroep te beoefen, maar kan nie insien dat hulle sterk genoeg is om alleen te leef nie? Juis omdat hierdie vroue ’n sukses maak van hul ander lewenstake, dink hulle hulle kan ook eiehandig hul huwelik red. Ongelukkig is dit nie so nie.

’n Man wat sy werk verloor het, kan dikwels nie die stres daarvan hanteer nie. Dit manifesteer dikwels ook in seksuele onsekerheid. Maar jou man het uit eie wil sy werk bedank. Waarom kry ek die indruk hy soek nie vreeslik hard na ’n ander, uitdagender beroep nie? Of bied die internet genoeg opwinding?

Vra jouself af of jy nie dalk ’n groter mislukking van jou lewe maak deur ’n verlore stryd te voer nie? Gaan jy nog 10 jaar ‘‘suksesvol’’ wees en dan op 50 besef jy het 10 jaar van jou lewe weggegooi?

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 26 November.