
Franschhoek Food deur Myrna Robins (R340, Struik Lifestyle)
Franschhoek is ’n mekka vir al wat kos- en wynliefhebber is. Die bekroonde kos-wyn-en-reisskrywer Myrna Robins het by 18 eetplekke gaan eet en van hul gewildste geregte afgeskryf – van fynkos en bistro-kos tot Kaapse, Afrika- en Franse resepte kom van bekende sjefs soos Topsi Venter, Reuben Riffel, Margot Janse, Neil Jewell en Matthew Gordon.
Slaai van gerookte hoender en perskes
By die loslit-bistro French Connection in Franschhoek kry jy eenvoudige, goed bereide kos waarvoor plaaslike en oorsese gaste keer op keer terugkom.
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 minute
Gaarmaaktyd: 3-5 minute
SLAAISOUS
50 g vars dragon, fyn gekap; 150 ml goeie mayonnaise; 50 ml crème fraîche; 50 ml gerookte olyfolie; sout en peper na smaak
SLAAI
3 ryp maar ferm rooiwangperskes, ontpit en in wiggies gesny; 50 ml olyfolie; 150 g boerboontjies, uitgedop, of mangetout; 150 g vars groen aspersies en 500 g gerookte hoenderborsies, ontbeen en in netjiese skywe
SLAAISOUS Klits al die bestanddele saam met ’n handmenger en hou eenkant.
SLAAI Verf die perskeskywe met olyfolie en rooster op ’n warm gietysterpan, onder die roosterelement van die oond of oor die kole. Rooster sowat 1 minuut aan elke kant tot effe geskroei. Laat afkoel.
Blansjeer die boerboontjies of mangetout en aspersies sowat 30-60 sekondes in kook-water, dreineer en verfris in koue water. Hou in die yskas tot benodig.
Pak die hoenderborsies en perskeskywe op 4 eetborde of andersins op een groot opdienbord. Rangskik die groente bo-op en sprinkel die gekapte ui en tamatie oor. Drup van die slaaisous oor. Garneer met bronkors.
Sien nog resepte uit ’n keur van vanjaar se kookboeke in Huisgenoot van 3 Desember.





