Tuesday, 20 October 2009

Geure uit die Ooste


Die dekorkenner Melanie Robinson wys ons haar huis in die stad met sy gul Bosveld-gevoel. Sy gee ook nuttige dekorwenke en resepte vir geregte met Midde-Oosterse smake.

Warm vrugtige slaai

Genoeg vir 4 mense. Die bereiding neem 20 minute en die gaarmaaktyd is 10-15 minute.

Bestanddele: 45 ml (3 e) heuning; 3 kardemompeule se sade; 15 ml (1 e) lemoenbloeiselwater; 45 ml (3 e) sjerrie; 25 g botter; 125 ml (½ k) olyfolie; 3 pere, geskil, ontkern en in kwarte gesny; 1 pakkie gemengde slaaiblare; 1 bossie bronkors; 2 rooi uie, in dun ringe gesny; 100 g swartolywe, ontpit; 100 g okkerneute, gerooster; sap en skil van 2 suurlemoene; ’n knippie suiker, sout en peper na smaak.

Metode: Verhit die heuning, kardemom-sade, lemoenbloeiselwater en sjerrie in ’n kastrol. Verhit die botter en 30 ml van die olyfolie in ’n pan en braai die pere daarin, sowat 1 minuut per kant. Voeg die heuningmengsel by en roerbraai nog 2 minute. Hou eenkant. Meng die pere-mengsel met die blare, uie, olywe en twee derdes van die okkerneute en skep dit in ’n slaaibak of verdeel dit tussen vier borde. Meng die orige olyfolie met die suurlemoenskil en -sap en geur met ’n knippie suiker, sout en peper. Giet dit oor die slaai en sprinkel die res van die okkerneute oor.

Nog heerlike resepte in Huisgenoot van 29 Oktober.