Friday, 09 October 2009

Boeke


TO HEAVEN BY WATER deur Justin Cartwright *** (Bloomsbury; R210) Sy vrou is kort tevore dood, maar die middeljarige nuusman David Cross is nie besonder hartseer nie. Om die waarheid te sê, hy beskou haar dood as ’n geleentheid om hom in Londen se moderne kultuur in te grawe – en homself te vind. Hy hou egter nie van wat hy ontdek nie en vat die pad na die Kalahari-woestyn. Hier woon sy broer, Guy, wat ’n lewe leef wat die teenoorgestelde is van David s’n – ’n lewe waarin materialisme geen plek het nie. Hier kry David die geleentheid om te ontdek wat waarlik belangrik is in die lewe. Dis ’n dikwels skrynende blik op die lewe van ’n man wat eers ’n geliefde moes verloor voor hy kon begin lewe. Sy sterstatus as TV-persoonlikheid en sy nuutgevonde vryheid laat hom soms die pad byster raak, maar dit is die eerlikheid waarmee die gebore Suid-Afrikaanse skrywer die storie vertel, wat die roman boeiend maak.
KIM VAN REIZIG

VEILIGE HAWE deur Irma Joubert *** (Lapa-Uitgewers; R99,95)
Irma Joubert se aanhangers – en daar is baie, veral ná tussen stasies – word hier bederf met twee romans vir die prys van een. Vonkpos is die storie van Liezl en Pieter. Sy het haar man agt maande tevore ná ’n siekbed verloor en Pieter dink aan emigreer nadat sy vrou en twee dogters vermoor is. Liezl gaan help hom sy huis op die plaas oppak en heeltemal teen haar sin verloor sy haar hart op hom. In ’n Beskermengel vir Marlene word Marlene vyf dae ná ’n motorongeluk wakker en moet sy deur haar pynnewels verneem haar man, ds. Gawie, is dood. En sy is maar net 22. Dis ’n lang herstelproses, want nie net haar lyf is stukkend nie, haar hart ook. Maar daar is Adolf, die dokter met die mooi stem wat hom oor haar ontferm, maar die mense sê hy is ’n jagter wat gou belangstelling verloor in sy prooi . . .
SANTIE BAUMAN