Tuesday, 20 October 2009

Boeke


OMNIBUS 2 deur Elza Rademeyer *** (Jasmyn-uitgewers, R175)

Lyk my die tyd van die jaar word die omnibusse geoes. Miskien besef uitgewers vroue se batterye is hierdie tyd van die jaar maar papperig en hulle het nodig om die deur agter hulle toe te trek met ’n gerf ontsnapverhale.

In Omnibus 2 van die bekende liefdesverhaalskrywer Elza Rademeyer is daar eerstens Verlief en Verlore op Marion – Louise kom by uit ’n koma en bevind haar tussen barbare en gomtorre. Sy vind gou uit sy is tussen Marion-eiland se weermanne nadat die seiljag waarop sy was, in ’n storm was. In Dwaalspoor na Kanaän praat Niena Pistols met die dominee oor skinderpraatjies. Sy skrik as hy haar speels vra of sy met hom sal trou, want sy’s dan ’n heiden! Laaste is Woestynpad van Verlange, die storie van die weduwee Debbie Tredoux, haar seun wat aan haar rokspante vas is en ’n nors loodgieter.

THE HELP deur Kathryn Stockett *** (Penguin, R200)

Die sterk roman wat onlangs bekroon is met Exclusive Books se boekeprys vir 2009 fokus op drie buitengewone vroue.

Aibileen is ’n swart huishulp wat 17 wit kinders grootgemaak het. Haar beste vriendin is Minny Jackson, ’n ma van vier wat nooit haar mond hou vir haar base nie. Eugenia Skeeter Phelan is die pas afgestudeerde dogter van ’n wit katoenboer en is salig onbewus van die rassespanning in hul dorpie, Jackson, Mississippi. Saam doen hulle iets wat so gevaarlik is dat hulle in die tronk kan beland – of selfs doodgemaak kan word.

Toe Skeeter besef hoe sleg dit met die huishulpe gaan, help sy hulle om hul stories te vertel. Hoewel dit neerdrukkend kan klink, is dit ’n wonderlike verhaal van hoop en dapperheid – en baie daarvan herinner aan dinge wat nie vreemd is in ons land nie.