Friday, 02 October 2009

Dr. Adri gee raad


LIEFDESDRIEHOEK OP 60
Ek is in my 60’s en op my ouderdom behoort jy nie raad te vra nie, maar my situasie kry my onder. Ná my egskeiding het ek op ’n dorp gaan bly en ’n nuwe lewe geskep. Ek het vrede gehad, tot ek ’n vrou ontmoet het. Ons was albei versigtig vir ’n verhouding, maar ek het later by haar ingetrek. Sy het jare gelede ’n verhouding met ’n getroude man gehad wat na sy vrou teruggekeer het. Vyf maande gelede het hy teruggekom, geskei en gereed om hul verhouding voort te sit. Sy sê sy wil saam met my wees, maar hy los ons nie uit nie. Hy daag op by ons huis en bly tot ons hom ’n ete en slaapplek gee. En sy kry geskenke en oproepe van hom wat sy vir my wegsteek. Ek werk heeldag en wil haar nie oppas nie, maar soms as ek by haar werk opdaag, sit die man daar. Sy wil nie hê ek moet hom konfronteer nie, want sy kry hom jammer. Sy sê ek moet geduldig wees; hy sal wel moed opgee en ons uitlos. Die situasie is besig om my vertroue in haar weg te kalwe en ek weet nie meer of ek haar kan glo nie.
GEFRUSTREERD

DR. ADRI ANTWOORD
Hoe oud is jy – 16 of 60? Op jou ouderdom behoort jy te weet jou vriendin en haar eksminnaar sit vir jou ore aan. Albei misbruik jou goedgelowigheid en speel hul eie laakbare speletjie. Ek het nog nooit gehoor jy moet ’n eksminnaar in jou huis verwelkom en vir hom slaapplek en kos gee nie. Daar is niks aan hom te bejammer nie. Hy moes sommer op die eerste dag al ’n stewige skop onder sy agterstewe gekry het. En jou vriendin moes hom dit gegee het, as dit waar is dat sy nie vir hom omgee nie. Vat jou goed en los hulle om hul eie sake uit te werk. Gaan kry weer jou vrede, sonder die oneerbare vrou.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 8 Oktober.