Friday, 02 October 2009

Geldsake: Ten volle gedek


’n Leser het inligting van haar mediese fonds oor aanvullende dekking ontvang. ‘‘Maar hoekom is dit dan nodig?’’ vra sy. ‘‘Ek het klaar ’n mediese fonds.’’ Aanvullende mediese versekeringspolisse of gaping-dekking (gap cover) dek die verskil tussen dít wat jou mediese fonds betaal en die werklike koste van spesialiste en dokters se dienste, maar net as jy in die hospitaal behandel word.

Mediesefondslede ondervind dikwels ’n tekort tussen die bedrag wat die mediese skema dek en die werklike koste van doktersbesoeke, want dokters en spesialiste mag meer vra as die Nasionale Gesondheids-verwysingspryslys (NHRPL) se tariewe.

Die regering stel die lys saam as riglyn vir die tariewe van mediese diensverskaffers. Maar hul tariewe is nie noodwendig dieselfde as dié van die NHRPL nie en dikwels vra hulle meer. Mediese skemas betaal dikwels net twee tot twee en ’n half keer die NHRPL-tariewe uit en die res is dan die mediesefondslid se verantwoordelikheid. Die dekking deur mediese fondse verskil ook volgens die voordeelopsie van die lid. By wyse van spreke kan ’n brons-voordeel-opsie byvoorbeeld minder van die NHRPL-tarief uitbetaal as ’n goue-voordeel-opsie.

Sekere hospitaal- en omvattende planne bied dekking teen 100, 150 of 200 persent van die NHRPL-tariewe net vir hospitalisasie, terwyl die werklike koste meer as 300 persent daarvan kan wees. Daarteenoor bied gapingdekkingpolisse dekking vir alle bedrae wat die NHRPL-tariewe oorskry vir dienste wat spesialiste en ander dokters lewer terwyl jy in die hospitaal is. Die oorskrydingsuitbetaling wissel van versekeraar tot versekeraar, maar word beperk tot sowat vier keer die NHRPL-tarief.

Die gemiddelde keisersnit-koste is volgens die versekeraar Guardrisk gewoonlik R15 300, terwyl die NHRPL net R5 700 daarvan sal uitbetaal. Dit laat ’n gaping van byna R10 000. ’n Heupvervanging kan gemiddeld R25 500 kos, terwyl die NHRPL-tarief net R12 000 is.

’n Maatskappy soos Guardrisk betaal meestal eise uit vir keisersneë, nieroorplantings en heupvervangings. Maar daar is ook ’n magdom ander toestande waarvoor lede van mediese fondse gapingdekking nodig kan kry soos neus- en katarakoperasies en ook histerektomieë. Vir party mense kan gapingdekking daarom ’n positiewe toevoeging tot hul mediesefondsdekking wees.

Nog finansiële advies in Huisgenoot van 8 Oktober.