
TURBULENCE deur Giles Foden **** (Faber&Farber; R222)
Die lot van ’n groot militêre mag wat in die eerste week van Junie 1944 gewag het om die Engelse Kanaal oor te steek het nie soseer van die verdedigers van Hitler se Fort Europa afgehang nie as van iets veel ingewikkelder – die weer. Die grootste invalsleër nog se D-dag-aanslag kon net slaag as die ideale weerstoestande ’n hele paar uur lank op een dag sou heers. Daarom het die Britse en Amerikaanse oorlogvoerders die beste wetenskaplikes vir ’n akkurate voorspelling nodig gehad. Maar die beste kenner op die gebied, met ’n teoretiese antwoord op ’n akkurate voorspelling in sy kop, het ’n pasifistiese kluisenaar geword. Iemand moet hom opspoor, sy guns wen en oorreed om saam te werk. Giles Foden laat ’n slim en oorspronklike verhaal teen ’n ware geskiedkundige agtergrond afspeel.
CHASTENED: NO MORE SEX IN THE CITY deur Hephzibah Anderson **** (Random House Struik; R215)
Baie vroue sal by die slim en diepsinnige memoires aanklank vind, veral dié wat liefde soek. Dit is Hephzibah, ’n vrou van iets in die 30, se eie verhaal van hoe sy besluit om liefde sonder seks te soek nadat sy te veel seks sonder liefde gehad het. Soos baie vroue is sy ontnugter nadat sy al te veel kere terloopse seks vir iets meer aangesien het. Sy skuif seks op die lange baan en soek romanse. Sy flankeer, SMS en geniet talmende kyke, intense gesprekke en passievolle omhelsings – sonder seks. Pleks daarvan word die leser op ’n maandelikse vertelling getrakteer oor hoe sy met haar kuisheid vaar. Die skryfwerk is poëties en deurspek met verwysings na populêre kultuur. Dit bevat ook ’n paar ouer, minder bekende, wyse woorde van filosowe. Die verhaal is realisties en laat jou dink oor jou eie pogings om liefde te vind. Dit bied stof tot nadenke.
Kry nog baie boekenuus in ons maandelikse boekeseksie in Huisgenoot van 8 Oktober.