
ʼn Leser skryf sy het ná haar man se dood in ’n groot verknorsing beland. Al het die egpaar saam ’n maatskappy besit en waardevolle bates gehad, wou die bank beslag lê op hul huis omdat dit in albei se naam was. Verder is hul gesamentlike bankrekeninge bevries en kon sy geen geld trek nie. Die versekeringsmaatskappy het ontsettend lank geneem om polisse uit te betaal en wou selfs bewys hê dat haar man nie voorheen getroud was nie, al was hulle 20 jaar getroud. Lesers kan planne maak om nie in dieselfde bootjie te beland nie.
Die versekeraar se gesloer met die uitbetaling was waarskynlik omdat die polis wat hier ter sprake is, ’n uittree-annuïteit was, sê Michelle Human, ’n senior regsadviseur by Liberty Life. Uittree-annuïteite word deur die Wet op Pensioenfondse gereguleer en die uitbetaling met iemand se afsterwe is meer gekompliseerd as met ’n gewone polis. Die trustees van ’n uittree-annuïteitsfonds moet volgens wet seker maak die opbrengs uit die belegging word aan iemand betaal wat finansieel van die oorledene afhanklik was, selfs al word ander begunstigdes in die testament benoem.
Die trustees moet dan seker maak daar is geen ander afhanklikes nie en het 12 maande tyd hiervoor. As ’n eiendom op een of meer mense se naam was en dan oorgedra moet word, moet alle agterstallige eien-domsbelasting eers aan die munisipaliteit betaal word, ook vir die jaar waarin die oordrag plaasvind. Eers daarna kan die eiendom aan ’n nuwe eienaar – of dit nou ’n erfgenaam of ’n koper is – oorgedra word. Al was die oorlewende die eienaar van die een helfte van die eiendom, moet dit nog altyd gebeur.
Dit lyk daarom of die leser moes sukkel met ’n boedel wat blykbaar voldoende bates, maar onvoldoende kontant het. Die feit dat die bank op hul huis wou beslag lê, is ’n bewys dat daar moontlik onvoldoende kontant was en ook dat sy waarskynlik nie op haar eie gekwalifiseer het om die enigste verbandhouer te wees nie, sê Berrie Botha, die hoof van Sanlam Trust.
Lees volledige artikel in Huisgenoot van 15 Oktober.