
ERG SUINIG
V: Wat is die toppunt van spaarsamigheid?
A: As jy jou ruitveërs afskakel sodra jy onderdeur ’n brug ry.
DANELLE OOSTHUIZEN, E-POS
DIS DIE KOEKOEK
Sannie, ’n deelnemer aan Who Wants to Be a Millionaire, vaar baie goed. Dis die heel laaste vraag en as sy reg antwoord, wen sy R1 miljoen. Antwoord sy verkeerd, kry sy net R25 000. Sy vermoed dit gaan ’n moeilike vraag wees en dit is toe ook so. Die vraag is: Watter een van die volgende voëlsoorte lê hul eiers in die neste van ander voëls? Is dit die:
A) visarend
B) aasvoël
C) koekoek
D) naguil
Sannie sweet bloed. Sy weet nie wat die antwoord is nie en sy het reeds die 50/50-kans en die vra-die-gehoor-opsie gebruik. Al wat oorbly, is om ’n vriend te bel. En haar vriendin is, wel, blond. Maar sy bel tog. Toe haar vriendin antwoord, sê sy vir haar wat die vraag en die vier alternatiewe is.
Sonder huiwering antwoord die blondine: ‘‘Dis die koekoek.’’
Sannie sit met ’n dilemma. Moet sy omdat haar vriendin blond is, juis ’n ander antwoord gee? Maar dan dink sy dat sy darem baie beslis was. Dalk is sy reg.
Sannie sê dus: ‘‘Dis C. Die koekoek.’’
‘‘Dit is heeltemal korrek! Jy is nou ’n miljoenêr!’’ skree die aanbieder.
Drie dae later hou sy ’n partytjie saam met haar vriende en familie om dit te vier. Die blondine is ook daar.
‘‘Jenny, ek weet nie hoe om jou te bedank nie,’’ sê Sannie vir die blondine. ‘‘Maar hoe op dees aarde het jy geweet dit is die regte antwoord?’’
‘‘Aag, kom nou,’’ sê die blondine. ‘‘Almal weet mos koekoeke bou nie neste nie. Hulle bly in muurhorlosies!’’
MILYSSA, WELKOM
Lees nog grappe in Huisgenoot van 15 Oktober.