
OM TE SWYG OF NIE
My vrou het betrokke geraak by ’n kuberseksverhouding met ’n getroude man. Sy het hom eenmaal vir ’n paar dae ontmoet. Twee maande daarna het hulle ’n tweede geleentheid beplan, maar ek het hulle uitgevang toe ek hul e-posse onderskep het.
Ons het nou in ’n mate die ding deurgeworstel, as dit ooit moontlik is. Ons verhouding was weens persoonlikheidsverskille nog nooit die maklikste nie en my vrou gee dit die skuld vir haar optrede.
Ons gaan weer probeer, maar my vraag is: Oorhandig ek die e-posse aan die ander man se vrou? Ek verstaan hul huwelik is ook wankelrig. My vrou sê ek sal ongetwyfeld die man se verhouding met sy onskuldige vrou en twee dogtertjies verwoes en as die groot, wraaksugtige draak uitgemaak word.
ANONIEM
DR. ADRI ANTWOORD
Ek het werklik simpatie met jou moedeloosheid, frustrasie en hartseer. Harde werk wag op jou en jou vrou, want jul huwelik het baie diep in die put beland. Veral twee dinge moet jy besef: Jy moet jou vrou
onvoorwaardelik vergewe, hoe moeilik dit ook al is. En los die ander man se huwelik uit: Moenie dink sy vrou vermoed niks nie; laat hulle self die ellende in hul huwelik uitwerk. Moet ook nie sy kop wegblaas nie; laat braai hom liewer in sy eie vet.
Wat jy wel aan jou vrou én die ander man moet sê, is dat jy die inligting vir die ander party sal gee as hulle met hul skelm verhouding voortgaan. Moet net nie vir ewig die bewyse in jou besit hou nie; dit het slegte energie wat jy nie in jou lewe wil hê nie.
Die groot uitdaging is om toegewyd daaraan te werk om mekaar weer te vertrou. Vertroue is een van die kosbaarste dinge in ’n verhouding. Jou vrou sal moet bewys sy is betroubaar, en jy moet glo sy is.
Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 5 November.