
Statistiek oor gevreesde siektes is genoeg om jou naar te maak – een uit elke vier mense kry ’n hartaanval, kanker word by een uit elke drie gediagnoseer, en een uit elke 11 vroue kry borskanker.
Dié data oor gevreesde siektes van Liberty Life is nog kommerwekkender wanneer jy hoor agt uit elke 100 mense sal ’n beroerte kry. Altesaam 60 persent van hulle sal vroue wees, en 25 persent sal nog nie 45 jaar oud wees nie. Net 10 persent van beroertepasiënte herstel volkome, terwyl 53 persent agterna volkome afhanklik van ander se sorg sal wees. Maar die kommerwekkendste van alles is dat die gemiddelde ouderdom vir gevreesdesiekte-eise 41 jaar is. Dan het mense dikwels nog hoë skuldvlakke en hulle is veronderstel om nog baie jare geld te kan verdien.
Jou gesondheid en vermoë om ’n inkomste te verdien is jou grootste bates en jy moet dit beskerm. Gevreesdesiektedekking is ’n manier om dit te doen. Mediese rekeninge maak gemiddeld net ’n derde van al die koste uit wat met gevreesde siektes gepaardgaan, sê Neelan Porthan van Liberty Life. Dis daarom belangrik om in ag te neem wat gevreesdesiektedekking jou bied waar jou siekefonds nie sal bykom nie.
Deur dié finansiële steun kan jy ’n langer hersteltydperk bekostig, ekstra uitgawes soos verblyf en die versorging van jou kinders dek, en omdat ’n gevreesde siekte jou lewensduur of loopbaan kan verkort, help die ekstra geld jou om jou werktyd af te skaal en meer tyd saam met jou mense deur te bring.
’n Gevreesde siekte sal jou ook vir lank daarna onversekerbaar maak, want jy sal ’n te groot risiko vir ’n lewensversekeraar wees om nog dekking te kan kry. Gevreesdesiektedekking kan jou ook help met toekomstige krisisse as jy ’n deel van jou uitkeerbedrag opsysit vir ’n noodfonds.
Hoe kry ’n mens gevreesdesiektedekking? Jy kan losstaande dekking uitneem, of dekking wat aan lewensversekering gekoppel is.
Nog inligting oor hierdie belangrike kwessie in Huisgenoot van 3 September.