Friday, 07 August 2009

Huisgenotjies


BUITEMUURS
Die wiskundeprof het baie gekla oor die lugversorging in sy lesingsaal wat nie werk nie. Toe daag werkers oor die naweek op om dit te herstel, maar besef dit moet in die werkwinkel herstel word.

Aangesien dit weer teen Dinsdag teruggeplaas sou word, los hulle die gat in die muur.

Die prof was baie daarop gesteld dat geen, maar geen student laat by sy klas mag instap nie. Dié Maandag was Koos net ’n minuut laat. Toe hy by die klas instap, sê die prof baie streng: ‘‘Mnr. Van der Merwe, daar is die deur!’’

Koos verlaat toe die klas, maar hy besef dit gaan ’n belangrike lesing wees waaroor die prof stellig ’n eksamenvraag of twee gaan vra. Toe hy dus die gat in die muur sien, vat hy ’n stoel en gaan sit net buite die gat sodat hy kan luister.

Die prof sien hom deur die gat en vra: ‘‘Mnr. Van der Merwe, wat dink jy doen jy?’‘

Waarop Koos antwoord: ‘‘Prof, ek swot buitemuurs.’‘
LINDA VAN HEERDEN, E-POS

ERG SUINIG
V: Wat is die toppunt van spaarsamigheid?
A: As jy jou ruitveërs afskakel sodra jy onderdeur ’n brug ry.
DANELLE OOSTHUIZEN, E-POS

DIS DIE KOEKOEK
Sannie, ’n deelnemer aan Who Wants to Be a Millionaire?, vaar baie goed. Dis die heel laaste vraag, en as sy dié korrek beantwoord, wen sy R1 miljoen. Antwoord sy verkeerd, kry sy net R25 000.

Sy vermoed dit gaan ’n moeilike vraag wees en dis toe ook so. Die vraag is: Watter van die volgende voëlsoorte lê hul eiers in die neste van ander voëls? Is dit:

A) die visarend,
B) die aasvoël,
C) die koekoek of
D) die naguil?

Sannie sweet bloed. Sy weet nie wat die antwoord is nie en sy het reeds die 50/50-kans en die vra-die-gehoor-opsie gebruik. Al wat oorbly, is om ’n vriend te bel. En haar vriendin is, wel, blond.

Maar sy bel tog. Toe haar vriendin antwoord, sê sy vir haar wat die vraag en die vier alternatiewe is. En sonder huiwering antwoord die blondine: ‘‘Dis die koekoek.’’

Sannie sit met ’n dilemma. Moet sy omdat haar vriendin blond is, juis ’n ander antwoord gee? Maar dan dink sy daaraan dat die blondine darem baie beslis was. Dalk is sy tog reg.

Met haar vingers gekruis agter haar rug sê Sannie dus: ‘‘Dis C. Die koekoek.’’

‘‘Is dit jou finale antwoord?’’ vra die aanbieder.

‘‘Ja, dit is.’’

‘‘Die antwoord is korrek! Jy is nou ’n miljoenêr!’’

Drie dae later hou Sannie ’n partytjie vir haar familie en vriende om haar miljoen rand te vier. Die blondine is ook daar.

‘‘Jenny, ek weet nie hoe om jou te bedank nie,’’ sê Sannie vir die blondine. ‘‘Hoe het jy geweet dis die regte antwoord?’’

‘‘Aag, kom nou,’’ sê die blondine. ‘‘Almal weet mos koekoeke bou nie neste nie. Hulle bly in muurhorlosies!’’
MILYSSA, WELKOM

Lees nog grappies in Huisgenoot van 13 Augustus.