
Leer van Kleure saam met Wikus (***) deur Jan Ivens (Human & Rousseau, R74,95).
Hier is nou ’n prettige manier om kleintjies van kleure te leer! Elke dubbelblad het mooi, realistiese prentjies met een kleur as fokuspunt. Aan die kant van die boek is ’n wiel wat die kind draai tot die ooreenstemmende kleur in die loergaatjie verskyn. Dis ’n stewige kartonboek wat rowwe behandeling deur lomp handjies sal kan deurstaan. Leer van Vorms saam met Wikus werk op dieselfde beginsel van die draaiwiel en hier leer ken kinders die vierkant, ovaal, driehoek, diamant, sirkel en reghoek. Die boekies wat reeds in dié reeks verskyn het – Wikus in die Wildtuin, Wikus op die Plaas, Wikus Het Pret in die Skool en Wikus Het Pret op die Plaas – is baie gewild by ma’s wat hul kinders klein-klein aan die plesier van boeke wil bekendstel. Dis geskik vir kinders van twee tot sewe. Ook ouer kinders sal die boekies geniet.
Zeza en die Prins (***) deur Marijke Greeff (LAPA-uitgewers, R130)
‘‘Sy skouers is breed onder die spierwit linne van sy hemp. Hy het ’n kuiltjie in sy sterk, hoekige ken en sy tande steek wit af teen die sonbruin van sy gesig. Sy donker hare roer in die ligte bries.’’ Die eerste keer toe Zeza haar oë op Arnaut Renaldi lê, is sy nie in staat om te beweeg nie en sy diep stem laat ’n rilling teen haar ruggraat afloop. Dit is 1706 en sy woon saam met haar pleegouers op Vredenrust waar hulle ’n herberg besit. Die burgemeester wil haar dwing om met hom te trou. Dit is haar uitsiglose toekoms – tot Arnaut, die kroonprins van ’n klein staatjie aan die Middellandse See, op die toneel verskyn en haar hele wêreld omkeer. Marijke Greeff het ’n slag met liefdes-romans en het in 2004 die LAPA-liefdesromanprys vir Esmeralde en in 2008 die ATKV-woordveertjieprys vir Seerower vir Shakira ontvang.
Nog resensies in Huisgenoot van 20 Augustus.