Friday, 07 August 2009

Dr. Adri gee raad


BESIGE OUMA, EENSAME OUPA
Ai, dis lekker om ’n ouma te wees. Wat is lekkerder as om die bloedjies te bad, te troos of net lekker vas te hou?

Gelukkig vir Ouma bly die kleingoed so te sê langsaan. Kom hulle nie na haar nie, stap sy sommer oor – en kom eers ure later terug.

Vakansies of naweke weg van die kleintjies is ondenkbaar vir Ouma; daarom word Pa en Ma elke keer saamgenooi, want hulle het ook rus nodig. Oupa hoor eers daarvan net voor daar gery word. Sy vakansie saam met Ouma val plat voor hulle ’n kilometer ver gery het – dít nadat hy sy gholfstokke tuis gelos het om meer tyd saam met haar deur te bring. Daar aangekom, doen Pa en Ma net mooi niks en Ouma en die kinders jol, terwyl Oupa droëbek sit. Ouma is so besig dat sy skoon vergeet van Oupa en dat hy ook haar geselskap nodig het.

Oupa en Ouma sit nie meer saam op die stoep nie.
HARTSEER OUPA

DR. ADRI ANTWOORD
Dit is miskien een van die mooiste, hartseerste briewe nog. Ek sit hier, ’n bietjie verpletter, want wat kan ek vir jou sê? Ek is saam met jou baie, baie hartseer. Nie kwaad nie, nie lus om weg te loop nie, nie lus om te skree of te slaan of te skel nie, net hartseer.

Ouma, jy wat so ’n voortreflike ouma is, wat so verskriklik besig is, wil jy nie maar asseblief hierdie brief lees nie? Moenie jou vererg of jouself probeer verontskuldig nie; sien net raak dat jou lewensmaat van baie jare saam met jou in een huis woon – en eensaam is. Moenie minder lief vir jou kleinkinders wees nie; bederf en geniet hulle ten volle, want dis wat oumas doen, maar onthou jy is veel meer as net ’n ouma. Jy is steeds vrou en minnares en maat en geesgenoot; dit is jou eerste taak, want dit het jy jou man voor die kansel beloof.

Ouma, dink ’n bietjie: Wat is ’n familie sonder ’n oupa en ’n ouma op die stoep? Sommer niks.

En asseblief, Oupa, skryf binnekort vir my en vertel my Oupa en Ouma sit wel weer saam op die stoep.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 13 Augustus.