
MOET EK BLY?
Ek is 25. My ou van die afgelope agt maande bly in Engeland. Hy wil hê ek moet soontoe trek en met hom trou, maar ek weet nie of ek bereid is om alles prys te gee nie. Ek het ’n wonderlike werk, geniet elke dag daarvan en is baie na aan my familie. Maar hy is ’n wonderlike ou. Hy is baie sag en ek weet hy sal my op die hande dra en alles doen om my gelukkig te maak. Die een kant van my sê ek moet gaan en met ’n nuwe lewe begin, maar die ander kant sê: Nee, moenie gaan nie. Daar is ’n kans dat ek baie gelukkig kan wees, maar as dinge nie uitwerk nie, het ek alles prysgegee. Ek weet nie meer hoe ek na dié situasie moet kyk nie en dit begin ál meer aan my knaag.
DEURMEKAAR
DR. ADRI ANTWOORD
Nee wat, jy is nie reg vir trou of weggaan nie. ’n Meisie wat aan als dink wat sy moet prysgee as sy trou en nie eerstens aan haar man en haar liefde vir hom nie, is nie reg om voor die kansel te staan nie. Dit is wel verstandig om te dink aan al die struikelblokke wat so ’n keuse meebring, maar ’n vrou wat weet wat sy wil hê, is bereid om daardie keuse sonder wroeging te maak.
Dalk is dit in jou aard om deeglik na alle kante van ’n saak te kyk, maar jy straal nie juis uit dat die vooruitsig op ’n huwelik jou begeester nie. Is jy nie avontuurlik genoeg nie, of het jy jou vriend nie lief genoeg nie? As ’n mens so louerig voel, moet jy liewer bly waar jy is. Met die eerste klein krisis – en dit sal wel opduik – sal jy wil terug huis toe. Eendag gebeur dit wel dat ’n man jou voete onder jou uitslaan, en dan sal jy hom volg, al bly hy op ’n ander planeet. Dan sal jy wéét.
Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 20 Augustus.