Thursday, 20 August 2009

Boeke


HEILDRONK OP ’N GYPSYROMP (***) deur Nadia de Kock
Tafelberg, R145

Dis nie maklik om jonk en suksesvol te wees nie – veral in die uitgewersbedryf. Vianne Boeke is Mieke se droom, maar dit knor maar met haar hand vol moeilike skrywers, ’n bejaarderige sekretaresse wat basies doen wat sy wil en ’n gedugte teenstander in die boekbedryf.

Mieke leer meer van die sakewêreld as wat sy wou en ook van mooi prokureurs wat belangstelling verloor as hulle nie ’n meisie in die bed kan kry nie. Gelukkig is daar haar vriendin Ziggy wat goed is met margaritas maak, haar huismaat Helga wat genoeg gesonde verstand vir hul almal het en haar fotograaf-vriend Billy (wat op ’n dag sê hy sien nie meer kans om met haar vriende te wees nie . . . ).

Heildronk op ’n Gypsyromp val in die genre “chick-lit” wat min of meer saam met Bridget Jones’ Dairy gebore is en deesdae wêreldwyd gewild is – ’n ligte lees oor die wêreld van moderne meisies.
Lea Smit

WARE VERHALE VAN HOOP (***) deur Helana Olivier (samesteller), Lux Verbi, R110

Dit is nie heelpad maklik om dié boek te lees nie – soveel pyn, teleurstelling en trauma. Maar soos dit in die titel staan, is daar hoop en dit is sekerlik die nut van hierdie versameling vertellings: om jou as leser moed te gee en jou te laat verwonder aan die moed van ander.

Bekendes en onbekendes vertel van hul ervaring van geweld, siekte, gestremdheid, verwerping en verlies. So is daar die aan-grypende verhaal van Suna du Toit wat haar man in ’n ongeluk verloor het terwyl sy swanger was. Later verdrink een van haar tweelingseuns en nog later sterf een van haar oorblywende vier seuns ná ’n motorongeluk. Maar steeds leer sy om te kan sê God is goed en kan sy sê “die bulte word gelyktes”.

Ware Verhale van Hoop is in Engels beskikbaar as Stories of Real Hope. Die tantieme van die boek word geskenk aan I CARE, ’n organisasie wat straatkinders ondersteun.