
Iemand vertel dat sy deesdae gemiddeld R4 000 per jaar aan bankgelde spaar net omdat sy ’n goedkoper bankdiens gebruik. Baie mense is lui om van bank te verander, want dit klink net na te veel moeite. Dit klink immers na ’n ingewikkelde en tyd- en geldrowende proses.
Die goeie nuus is dat banke nou kwaai meeding onder mekaar om nuwe kliënte te lok. Gevolglik raak dit ál makliker om van bank te verander. Die einste vriendin se hele omskakeling het elektronies geskied en ’n koerierdiens het haar Fica-dokumente kom oplaai en weer haar nuwe debiet- en garagekaart kom aflewer. En sy is nie ’n top-verdiener nie.
Onthou dat kennis mag is – jy moet dus verskillende banke se maandelikse administrasie- en transaksiegelde vergelyk en ook uitvind watter lenings- en rentekoerse beskikbaar is. Kyk ook of daar ’n banktak en OTM naby jou huis of werk is; watter voordele die rekening sal bied, soos gratis reisversekering of lojaliteitsvergoeding.
Verneem of hierdie voordele jou iets gaan kos. Kyk of jy die ondersteuning van die personeel kry wat jy graag wil hê – is hulle hulpvaardig genoeg? Kyk na die internetbank-webtuiste en of dit gebruikersvriendelik is. Nedbank het byvoorbeeld ’n demo-webtuiste waarop jy kan oefen, al is jy nie ’n rekeninghouer nie.
Wat staan jou te doen as jy besluit om oor te skakel? Volgens wetgewing moet jy jou groen identiteitsboekie en ’n bewys van verblyfadres gee as jy aansoek doen om ’n bankrekening, sê Carl Fischer van Capitec Bank.
Daar is ook banke wat drie maande se state wil hê en ’n bewys van inkomste soos die jongste salarisstaat, laasgenoemde hoofsaaklik om vir jou die regte produk vir jou inkomstegroep aan te bied. Sommige banke bied ’n gratis koerierdiens wat hierdie dokumente by jou sal kom haal, selfs al maak jy ’n eenvoudige rekening oop. As jy nie na ’n banktak wil gaan nie, kan jy by alle banke deur die internet of per telefoon vir ’n rekening aansoek doen.
Lees meer oor wat jou te doen staan as jy van bank wil verander in Huisgenoot van 13 Augustus.