Thursday, 20 August 2009

Huisgenotjies


LAGLYNTJIES
‘‘Sjoe, maar jy kry baie laglyntjies,’’ sê ’n vrou vir haar kollega.

‘‘Laglyntjies? Wat is laglyntjies?’’

‘‘Jy weet, daardie mooi lyntjies wat jy kry as jy baie lag of glimlag.’’

‘‘O, dit maak sin. As jy al met so baie narre soos ek uitgegaan het, is laglyntjies seker onvermydelik.’’

OU HERINNERINGE
V: Wat is die algemeenste opmerking wat mense oor 60 maak as hulle antiekwinkels binnestap?

A: Ek onthou hierdie!

WEES BESLIS
Die vrou kla teenoor haar vriendin. ‘‘Ek weet nie meer wat om te doen nie. My man is ’n groot morsjors. Hy bêre niks. Die hele huis lê altyd vol goed wat hy gebruik of vuil gemors het. Ek moet agter hom aanloop en alles optel en bêre.’’

Waarop haar vriendin toe sê: ‘‘Hier is vir jou raad. Die eerste week nadat ons getroud is, het ek baie beslis vir my man gesê: ‘Onthou nou, elke glas, elke bord en elke koppie wat jy gebruik, moet jy was, afdroog en wegpak as jy daarmee klaar is.’ ”

‘‘Het dit gehelp?’’

‘‘Ek weet nie,’’ sê haar vriendin. ‘‘Ek het hom sedertdien nog nie weer gesien nie.’’

LAG SAAM
Sarel verander van werk. Die eerste dag by sy nuwe werk is daar ’n vergadering in die baas se kantoor. Hy maak die flouste denkbare grappe, maar tot Sarel se verbasing lag almal asof dit skreeusnaaks is.

Met teetyd keer Sarel een van sy nuwe kollegas voor en vra hom waarom hulle vir die baas se flou grappe lag.

‘‘As jy nie lag nie,’’ verduidelik sy kollega, ‘‘dan dink hy jy het dit nie verstaan nie en herhaal die grap oor en oor tot jy lag!’’

Lees nog grappies in Huisgenoot van 27 Augustus.