Thursday, 27 August 2009

Dr. Adri gee raad


WEDERHELF SOOS ’N BROER
Ek is 40 en 10 jaar getroud. Dinge het die laaste paar jaar erg versleg tussen my en my man. Dis nie een van ons se skuld nie, want hy is ’n goeie man en ons was eens op ’n tyd baie lief vir mekaar. Om die een of ander rede het ons opgehou om seks te hê, al is ons nog goeie vriende. Ek was by ’n sielkundige om te probeer verstaan wat gebeur het, maar ek dink ons het net opgehou om man en vrou te wees; ons is nou meer soos broer en suster. Ons het nie kinders nie en ek is finansieel onafhanklik.

Bly ’n mens in so ’n huwelik en hoop dit word beter, of skei jy? Ek voel as ek die res van my lewe so leef, gaan ons mekaar dalk haat.
BLY OF GAAN?

DR. ADRI ANTWOORD
Jy sê dinge het ‘‘erg versleg’’. Baklei julle, of het alles maar net afgewater geraak sodat julle geen passie meer vir mekaar het nie? Hoe bewus is julle van jul eie emosies, of gaan alles so goed en gelykmatig dat julle net afgestomp geraak het?

Vir die meeste mense sal dit verskriklik wees om met ’n ‘‘goeie vriend’’ getroud te wees. As jy nie jou man kan liefkoos en terg en knuffel en saam met hom uitbundig leef nie, dan moet ’n mens dié flou gedoente maar los, want julle karring met slap pap wat geen substansie het nie.

Maar aan die ander kant is dit ook ontsettend hartseer as julle ’n huwelik van 10 jaar moet laat vaar waarin julle ten minste vriende was.

Julle is goeie kandidate vir ’n kort proefskeiding. Gaan bly vir drie maande op ’n ander plek en leef jou eie lewe. As albei dan gelukkiger is, is dit seker ’n aanduiding van wat julle moet doen. Maar ek hoop van harte julle verlang so na mekaar dat jul huwelik opnuut vlam vat.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 3 September.