
As jy goed doen aan ander, sal goeie dinge ook na jou kom. Dit glo die meeste gelowe, en blykbaar die belastinggaarder ook, want daar is vergunnings vir liefdadigheidskenkings wat van jou belasting afgetrek kan word.
Vir belastingdoeleindes word nie meer van liefdadigheidsorganisasies gepraat nie, en die korrekte term is ’n openbare weldaadsorganisasie, beter bekend in Engels as public benefit organisation. Aan sulke organisasies mag skenkings gemaak word wat van die skenker se belasting afgetrek kan word. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) beskryf so ’n skenking as ’n goedgunstige skenking waaruit die skenker nie regstreeks voordeel trek, waarvoor hy of sy nie voorwaardes stel of wat hy of sy nie terugeis nie.
Sulke aftrekkings word beperk tot ’n bedrag wat maksimum 10 persent is van jou belasbare inkomste ná enige ander kortings soos uittree-annuïteite en pensioenbydraes, maar voor mediese kortings, sê Vittorio di Giannatale van Ghias Acounting Services.
Om dit prakties te verduidelik: Jy verdien R10 000 per maand en betaal maandeliks R750 aan ’n uittree-annuïteit en R700 aan die Dierebeskermingsvereniging (DBV). Jou jaarlikse inkomste is R120 000 en die uittree-annuïteitbetalings vir die jaar was altesaam R9 000. Die bedrag waarop die 10 persent bereken word, is dus R120 000 minus R9 000, wat R111 000 is. 10 persent hiervan is R11 100. Die R700 vir 12 maande aan die DBV is R8 400, en daarom sal die hele R8 400 toegelaat word as aftrekking van belasting. As jy R12 000 vir die jaar aan die DBV betaal het, sou jou aftrekking tot R11 100 beperk gewees het.
Wie kwalifiseer almal as weldaadsorganisasies? Dié organisasies moet onder Deel 30 en 18A van die Wet op Inkomstebelasting nr. 58 van 1962 goedgekeur word. Hulle moet dan ook ’n brief hê om te wys dat hulle ingevolge die wet en by die SAID goedgekeur is. Hul sake mag nie hul werknemers se selfbelange ekonomies bevoordeel nie – dit beteken egter nie dat sulke mense nie redelike salarisse vir hul werk mag kry nie.
Lees meer hieroor in Huisgenoot van 20 Augustus.