Tuesday, 25 November 2008

Spandeer slim in die feestyd


Die komende feestyd is een waarin mense tradisioneel baie vrygewig is, of dit nou om geloofsredes is of bloot om te wys hulle waardeer mekaar.
Geskenk-inkopies kan egter ’n reuse uitgawe wees en ’n berg word wanneer die gaste ál meer en jou rande ál minder word.

Hoe oorleef ’n mens dié tyd en die uitgawes wat jy dan aangaan? Die eerste stap is om beheer daaroor te neem en dit behoorlik te beplan. Stel dus ’n lys name en ’n begroting op. Skryf neer wat jy kan bekostig en vir wie jy almal iets moet koop. Dit sal jou ’n goeie idee gee van hoeveel jy aan elke persoon kan bestee.

Die tweede stap is om net mense op jou lysie te sit saam met wie jy werklik die feestyd gaan deurbring, en nie ook bure en kollegas nie. As jy na ’n tradisionele Kersboomgeselligheid gaan, kom met vriende of familie ooreen dat almal eerder name trek en net vir een persoon ’n ordentlike geskenk koop, pleks van met ’n klomp waardelose en nuttelose pakkies opdaag.

As daar iemand spesiaals is vir wie jy in die besonder wil bederf, beteken dit nie noodwendig jy moet meer geld bestee nie. Mense waardeer ’n goed deurdagte geskenk wat by hul persoonlikheid en bedrywighede pas baie meer as iets wat duur maar onbruikbaar is.

Hou by jou begroting. As jou geld op is, koop jy niks meer nie. Moet veral nie jou kredietkaarte rondswaai nie. Met kredietkaartkoerse om en by 27 persent kan daar dan volgende jaar vir jou ’n minder aangename geskenk in die vorm van maandelikse skuldafbetalings wag.

Die ideale tyd om jou Kersinkopies te doen, is sommer vandag nog, voor die laatslapers die winkels stormloop. Kies weekdae eerder as naweke, en vergelyk die pryse van duurder geskenke in minstens twee winkels. Jy sal verbaas wees hoeveel pryse vir dieselfde artikels kan verskil.

Probeer ook een of twee algemeen geskikte geskenke koop en draai dit sommer toe, sodat as jy skielik ’n geleentheid moet bywoon of ’n onverwagte geskenk ontvang, jy nie verleë is nie.

– Huisgenoot van 4 Desember het nog wenke oor hoe om jou Kersinkopies pynloos af te handel.