Thursday, 06 November 2008

Boeke


Byna Liefde deur Izak de Vries; Tafelberg; R 140

Die liefde is ’n veelkantige emosie en in hierdie bundel kortverhale word verskillende vergestaltings daarvan belig. Daar word geskryf oor oop verhoudings, gedwonge verhoudings, vergange verhoudings, selfs verhoudings waarvan die kern nie gepeil kan word nie. Maar in almal is die lyflike nie ver van die oppervlak nie.

Die skrywer benut verskillende style – van ’n sprokie tot ’n historiese verslag – en tegnieke om sy stories te vertel. Karakters duik byvoorbeeld in verskillende verhale op. Dit stel hom in staat om uit verskillende oogpunte na karakters soos die bruid van die Duitse sendeling te kyk.

Hierdie bundel is nie ontspanningslektuur nie. Dis op lesers gemik wat van ernstige leesstof hou, want De Vries skryf slim – ongelukkig by tye opsigtelik slim. Tog kan dit interessant wees om in die somervakansie rustig te sit en al die kruisverwysings tussen die karakters en verhale met mekaar te verbind.
Jan Bosman

Alles Wat Jy Wil Weet deur Deborah Chancellor, Deborah Murrell e.a.;
LAPA-uitgewers; R200

Dié prettige eenvolume-ensiklopedie ‘vir jong slimkoppe’ is in tien afdelings verdeel en die onderwerpe wissel van die aarde tot plante en masjiene, elk met onderafdelings. Die inligting word in kleurryke kassies en maklik verteerbare brokkies weergegee en met meer as 2 000 illustrasies toegelig.

By elke onderwerp is nuttige internetskakels vir verdere navorsing. Nuwe woorde word verduidelik en interessante stories tussendeur vertel. Die aktiwiteitskassies gee aanwysings vir praktiese projekte soos hoe om ’n maan-dagboek te hou en plante van steggies te kweek. Elke afdeling word afgesluit met ’n kort opsomming.

Dié pragboek sal kinders van sewe jaar en ouer se belangstelling oor vele onderwerpe prikkel en hulle aanmoedig om verder daaroor te lees. Ouers kan hieruit idees put oor hoe om kinders in die vakansie op ’n leersame manier besig te hou.
Brenda Pienaar

Gesels met ons – klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.