Wednesday, 19 November 2008

Resep van die week: Vanieljekoekies


Bak ’n andersoortige Kerskoek en ander keurige fyngebak, net betyds vir die feestyd wat voorlê. Die baasbakster Serita Landman, eienaar van die splinternuwe Café Delicieux in Welgemoed, deel van haar resepte met ons. Hier is haar resep vir vanieljekoekies.

Vanieljekoekies

Gebruik verskillende koekiedrukkers en druk mooi vormpies uit. Versier die koekies kwistig met ’n reënboog van kleure en verpak mooi.

Bestanddele
Koekies
500 ml koekmeel; 1 ml sout; 150 ml strooisuiker; 100 g koue botter, gerasper; 7ml vanieljegeursel; 1 ml amandelgeursel; 1 eier

Versiersel
versiersuiker; eierwit; verskillende koekkleursels; silwer balletjies vir versiering

Voorverhit die oond tot 150 °C. Smeer ’n paar bakplate of bespuit met kleefwerende kossproei.

Metode
Koekies
Sif die koekmeel, sout en strooisuiker saam. Skep die gesifte meelmengsel in ’n voedselverwerker, voeg die botter by en pols tot dit soos fyn krummels lyk. (As jy nie ’n voedselverwerker het nie, vryf die botter met jou vingerpunte in.) Voeg die vanielje- en amandelgeursel asook eier by en pols tot dit ’n sagte bal vorm. Indien die deeg te krummelrig is, voeg sowat 15 ml yskoue water by. Verwyder uit die voedselverwerker en rol die deeg op ’n meelbestrooide werkoppervlak uit. Druk koekies uit met koekiedrukkers van jou keuse. Pak op die gesmeerde bakplate en bak 10-12 minute of tot gaar.

Versiersel
Maak die versiersuiker met ’n bietjie voedelkleursel aan (net genoeg om ’n pasta te vorm) en plaas in ’n versiersak met ’n dun spuitstuk. Versier die koekies met die versiersel en balletjies en laat droog word. Verpak in mooi houertjies.

– In Huisgenoot van 27 November is nog van Serita Landman se resepte vir andersoortige Kersgebak.