Friday, 14 November 2008

Boeke


MENSE VAN MY ASEM deur STEVE HOFMEYR (Zebra)
R152
Resensent: Hannelie Booyens
Uit 5: 3

Die interessantste deel van Steve Hofmeyr se outobiografie is die eerste hoofstukke, veral as jy besef hoe belangrik dit vir hom was om hoofseun van die Laerskool Hennenman te word en om by die spogskool Grey-kollege aanvaar te word.

Spoegblok-aanhangers sal veral die tweede helfte teleurstellend vind, wat basies uit sy internet-pennevrugte en ander reeds gepubliseerde materiaal bestaan.

Die boek is klaarblyklik haastig aanmekaargetimmer en min redigering is gedoen. Baie inligting word gedupliseer en die slordige taalversorging en struktuurloosheid teen die einde pla. Jy gaan niks sappigs oor sy liefdeslewe hier lees wat nie al elders onthul is nie en sy skuldbelydenis kom geveins voor.

Uit sy outobiografie blyk wel Steve is ’n talentvolle, intelligente en soekende mens. Ongelukkig ontbreek die objektiwiteit en selfkennis wat dit ’n boeiende boek kon gemaak het.

EASY WALKS IN THE CAPE PENINSULA deur MIKE LUNDY (H&R)
R110
Resensent: Pieter van Zyl
Uit 5:3
Hy is ’n voetslaanlegende in die Kaap en wil soveel mense met so min moeite moontlik die natuur laat invaar – selfs rusbankstappers wat nog net met hul oë op die Travel Channel voetslaanpaaie aangedurf het.
Met droë kwinkslae en bondige maar ryk beskrywings laat Mike Lundy die voete jeuk. Daar is ’n nuwe staptog in die Kaapse Skiereiland vir elke naweek van die jaar. Van hulle is net twintig minute en ander tot drie uur lank, maar almal is maklik genoeg vir selfs groentjies om te voltooi. Meer ervare stappers kan van die roetes kombineer.

Interessante staaltjies word ook vertel oor plekke langs die roetes soos die Alphen-hotel se Boer-en-Brit-kuierplek en hoekom bome in die omgewing grys geverf is. Of jy nou in die Moederstad woon of gereeld daar kuier, die boekie met sy duidelike roetekaarte hoort in jou rugsak.