Friday, 14 November 2008

KYK MOOI VOOR JULLE HUIS KOOP


Huis koop sonder trane sit nie sommer in enige mens se broek nie. Sorg dus dat jy weet hoe die geldsake inmekaarsteek, en bly koelkop wanneer jy besluit oor jou droomhuis – jy wil nie dalk later met ’n nagmerrie wakker skrik nie!

Kopers in Suid-Afrika is op die oomblik in ’n sterk posisie, want die moeilike finansiële omgewing beteken daar is minder van julle, en meer mense wat dalk moet verkoop.

Dit is dus nou jou kans om ’n ietwat laer prys voor die verkoper se neus te swaai, maar markomstandighede verander en dan is die verkoper weer aan die wenkant.

Gerda du Plessis van Go Homes herinner ons aan wat kopers alles nog buiten die prys van die huis sal moet opdok:

- Hereregte is aan die SAID betaalbaar as die eiendom meer as R500 000 kos. Dit is 5 persent van die verkoopprys tussen R500 000 en R1 miljoen, plus 8 persent van enigiets bo R1 miljoen.

- Oordragkoste soos prokureursgelde en gelde vir Fica-vereistes. Eersgenoemde is onderhandelbaar, maar die verkoper kies gewoonlik die oordragprokureur en dan is dit nie prakties moontlik nie.

- Verbandregistrasiekoste gegrond op die verbandbedrag.

Wanneer jy gaan huis soek, gee Gerda die volgende raad:
- Wees op die uitkyk vir ’n lekkende dak, krake in mure, vloere en die swembad, asook klam kolle en muf wat kan dui op pype wat lek.

Hoe nou gemaak?
- Vra dat enigiets waaroor jy kwellings het, in die kontrak ingeskryf word. Byvoorbeeld, as die dak begin lek, sal die verkoper dit ook ná registrasie herstel.
- Sommige verkopers laat die koper toe om voor registrasie al in te trek en dan sal jy agterkom as daar strukturele foute is.
- Jy kan ook onafhanklike inspekteurs soos bouers of strukturele ingenieurs vra om die huis namens jou deur te kyk.
- Lees in die jongste Huisgenoot van 20 November meer oor waarvoor om uit te kyk wanneer jy ’n nuwe huis aanskaf.