Tuesday, 25 November 2008

Resep van die week: Koue hoenderrolletjies


Die vakansie is so te sê op ons en dis tyd om anders oor kos te begin dink – aan lekker maklike resepte vir die langpad, happies op die strand, slim planne vir ’n piekniek en bederfkos vir luilekker aande onder die sterre. Bederf jou familie en vriende met slim kosidees wat jy binne ’n oogwink gereed kan hê en wat nie die wêreld se geld of moeite kos nie.

Koue hoenderrolletjies

Maak hierdie rolletjies ’n dag voor die tyd. Dis ideaal vir inpak see toe of as ’n versnapering saam met ’n glas koue witwyn.

Bestanddele:

6 hoenderborsies, ontvel en ontbeen; sout en vars gemaalde swartpeper; 150 ml roomkaas; 50 ml basiliepesto; 100 g baba-spinasieblare; 150 g fetakaas, gekrummel; 50 g mozzarellakaas, gerasper

Metode:
Voorverhit die oond tot 180 °C. Vlek elke hoenderborsie en druk of kap dit plat met die palm van jou hand of gebruik ’n vleishamer. Probeer om die borsies so groot en dun as moontlik te kap sonder om die vleis te skeur. Geur met sout en swartpeper. Meng die roomkaas en pesto en smeer elke borsie met ’n dun lagie hiervan. Versprei die spinasieblare bo-oor, gevolg deur die feta- en mozzarellakaas. Rol die hoenderborsies styf op en steek vas met peuselstokkies. Plaas die rolletjies op ’n gesmeerde bakplaat en oondbraai 20 minute of tot gaar. Laat dit afkoel en sny in happiegroottes.

– In Huisgenoot van 4 Desember is nog resepte vir heerlike inpakkos.