Tuesday, 25 November 2008

Dr. Adri gee raad


Sekslose huwelik
Ek worstel al baie jare lank met my probleem. My vrou wil nie met my liefde maak nie. Nooit. Ons is nog nie te oud vir seks nie en geniet al twee goeie gesondheid.

Praat en mooipraat help net mooi niks en smeek sal ek nie. Ek laat nie toe dat dit my afgod word nie. Daarmee bedoel ek as dit my nie gegun word nie, sal ek nie ’n bohaai opskop nie en eerder met die lewe voortgaan.

Volgens my vrou is alles wat ek doen verkeerd, terwyl sy nooit ’n fout maak nie. Laat ek liewer ophou om nog besonderhede te verskaf, want as sy my of haarself dalk herken, gaan dit weer in beledigings en verwyte ontaard.
Nikswerd

Dr. Adri antwoord
Hierdie brief maak my hartseer, want dit wys weer hoeveel getroude pare ’n gemis aan huweliksgeluk het. Die feit dat jy die skuilnaam ‘‘nikswerd’’ kies, is skreiend, want jou vrou se houding het duidelik ook jou selfbeeld geknak. Mense wat mekaar liefhet, breek mekaar nie af nie, maar doen alles in hul vermoë om hul lewensmaat gelukkig te maak en op te bou. Wat het dan met julle verkeerd geloop? En waarom het julle nie al jare gelede aandag gegee aan die probleem nie?

Ek kan nie vir jou ’n eenvoudige antwoord gee nie, want daar kan ’n legio redes wees waarom jou vrou nie in seks belangstel nie. Is sy dalk in haar kinderjare getraumatiseer? Het sy oormatig preuts grootgeword met die idee dat seks sonde is?

Die ideaal sal wees dat jy en jou vrou saam ’n seksuoloog gaan spreek, maar ek vermoed sy sal glad nie vir so iets te vinde wees nie. Hoe gaan julle dit regkry om daaroor te begin praat? Sal dit dalk doeltreffend wees as jy haar voor ’n ultimatum stel: óf julle besoek ’n terapeut óf jy oorweeg dit om ’n minnares te kry? Miskien sal die skok van so ’n drastiese voorstel die werklikheid tot haar laat deurdring en haar dwing om openhartig met jou te praat. Het jy die moed om dit te probeer?