Thursday, 06 November 2008

Resep van die week: Toskaanse somerslaai


Ons verlang terug na die tyd van gister toe vrugte en groente nie die binnekant van ’n koelkamer geken het nie en toe botteltjies tuisgemaak die spensrakke vol gestaan het. Dis seker dié dat markte nou soos paddastoele oral opspring.

Daar is amper nie meer ’n plek in die land waar jy nie naweke by die een of ander markie kan gaan inloer om plaasvars groente, wonderlike gebak, allerlei ingemaak en vele ander heerlikhede te koop nie. Dan praat ’n mens nie eens van die interessante slaaie, oop platbroodjies, sjwarmas, kolwyntjies en allerlei ander gebak waaraan jy net daar by die bokkietafel kan peusel terwyl jy ’n koffietjie of vars uitgedrukte sap afsluk nie.

En, ai, die lekkerte om in die kombuis aan die werk te gaan spring met jou vars oes . . .

Toskaanse somerslaai

Bestanddele
Slaaisous
30 ml olyfolie; 45 ml rooiwyn- of balsemieke asyn; skil en sap van 1 suurlemoen; 60 ml vars gekapte kruie soos ment, koljander, pietersielie; knippie sout en peper; 5 ml brandrissie-sjerrie; 5 ml suiker of na smaak
Slaai
dag oue ciabatta-brood, in growwe stukke gebreek; jong tamaties; geroosterde swart en groen olywe; 1 rooi-ui, in ringe gesny; komkommer, in stukke gesny; bolletjies labneh-kaas of bocconcini-kaas of andersins fetakaas; vars basilie

Metode
Slaaisous
Meng al die bestanddele vir die slaaisous en hou eenkant.
Slaai
Pak die brood in ’n enkel laag in ’n oondbak en rooster by 200 °C tot goudbruin. Laat afkoel. Meng die brood met die res van die slaaibestanddele en sprinkel die slaaisous net voor opdiening oor.

– In Huisgenoot van 13 November is ’n lys van markte waar jy jou mandjie vol allerhande interessanthede kan gaan pak.

Gesels met ons – klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.