Thursday, 23 October 2008

Vir jou boekrak


Abjater Wat So Lag deur Wilma Stockenström; Human & Rousseau; R140

Hierdie roman is in 1992 met die Hertzog-prys bekroon en is nou as deel van die Klassieke Reeks herdruk.

Dit gaan oor ’n randfiguur wat haar tussen die wêreld van bediendes en base, tussen die lewe en die dood bevind. In haar jeug het sy as ‘‘witmeisie’’ by gesinne gewerk, maar later was sy ál meer sieketrooster en sterwensbegeleidster, ook vir haar jeugvriend Abjater. Hy was bekend vir sy ‘‘goue’’ lag, maar het sy lewenslus al tydens die Tweede Wêreldoorlog verloor toe hy fisiek en geestelik gewond is. Hy verwelkom die dood in sy sterwensoomblik met dieselfde lag as vroeër, want dit bied hom ontsnapping.

Die verteller besef dat sy met haar intieme kennis van die dood ‘‘wag op ’n lag, want ek weet hoe hy sal klink en ek sal my omhels voel’’. Hierdie skitterende boek konfronteer die leser met temas van menswees en ook met jou eie verganklikheid.
Alma Viviers

SA Geweldenaars sonder Genade deur Chris Karsten; Human & Rousseau; R125

Geweld het in ’n mate al deel van die Suid-Afrikaanse samelewing geword, maar party voorvalle ruk selfs geharde mense.

Soos die twee kapers wat ’n baba, haar ma en ouma koelbloedig doodskiet. Of die tuinier en sy makker wat ’n gesin saam met hul huiswerker uitwis. Of die soldaat wat sy dogtertjie in die rug skiet terwyl sy probeer vlug. Dit is drie van die tien opspraakwekkende moordsake wat in die sesde boek in die reeks oor Suid-Afrikaanse misdade bespreek word.

Hoewel die skrywer soms afdwaal, knoop hy – vaardige joernalis wat hy is – telkens die los drade saam. Dié boek is veral gemik op mense wat in ware misdaadverhale belangstel.
Jan Bosman

Wen!
Tien lesers kan elk die Ware Misdaad-reeks van ses boeke wen. SMS voor 6 November die woord GENADE, jou naam, van en adres na 34922. Elke SMS kos R2.

Gesels met ons – klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.