
Die sanger Dozi se probleem met sy stembande vroeër vanjaar – gelukkig toe net kortstondig – herinner jou aan daardie onverwagte dinge wat enigeen op die lyf kan loop en wat mense in hul beroep kan belemmer.
En hoe dan gemaak as so iets jou permanent verhinder om jou beroep te beoefen? Waarvan gaan jy dan leef, en hoe gaan jy jou afhanklikes versorg? Dis hier waar een van daardie maandelikse afbetalings inskop wat na ’n las kan lyk, maar ongeskiktheidsdekking is inderwaarheid iets wat jou en jou gesin finansieel van ondergang kan red.
’n Mens word amptelik ongeskik verklaar wanneer jy weens ’n siekte of besering nie langer jou werk kan doen nie. Die staat betaal net ongeskiktheidsvoordele aan iemand wat minder as R23 544 per jaar verdien het, of vir getroudes wat saam minder as R43 704 ingebring het. Sedert April is die maksimum ongeskiktheidstoelaag R940 per maand.
Wat staan jou te doen as jy dan wel vir jou eie dekking moet of wil sorg?
Ongeskiktheidsdekking is ’n inkomstebeskermer wat as ’n polis by lewensversekeraars uitgeneem kan word, maar daar is dinge om in gedagte te hou. Eerstens, as jy ’n heeltydse werknemer is, het jy dalk reeds ongeskiktheidsdekking. Baie maatskappye maak op dié manier voorsiening vir hul werknemers as deel van ’n groep-risikoskema of as deel van die maatskappy se aftreefonds. Die paaiement word dan maandeliks van die werknemer se salaris verhaal.
Daar is drie soorte ongeskiktheidspolisse: dié wat jou dek as jy nie jou werk kan doen nie (die duurste); dié wat jou eers dek as jy ook nie ’n ander werk kan doen wat die versekeraar meen jy kan verrig nie, en laastens polisse wat jou dek vir totale ongeskiktheid. Om van laasgenoemde te kan eis, moet jy geen werk kan doen nie. Dit is ook die goedkoopste opsie.
Neem derdens kennis van uitsluitings op ongeskiktheidsdekking. So sal jy byvoorbeeld nie gedek wees as jy ongeskik is omdat jy deelgeneem het aan terrorisme of doelgerigte onwettige optrede nie, ook nie vir beserings wat jy aan jouself toegedien het nie en ook nie as jy beseer is deur sekere hoërisiko-stokperdjies nie.
- Lees in Huisgenoot van 16 Oktober hoe jy jou vir ongeskiktheid kan dek.
Gesels met ons – klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.