
OUERSKAP OF NIE
Ek is 29 en my man 31. Ons is al twaalf jaar saam en twee daarvan getroud. My probleem kan dalk vir jou onbenullig klink, maar ek weet nie meer watter kant toe nie. Ons wil bitter graag kinders hê, maar ek is in twee geskeur oor dié besluit. Aangesien ons geldsake nie te goed lyk nie, het ons weer besluit om ’n bietjie te wag.
Ek besef ’n mens sal seker nooit genoeg geld hê vir ’n baba nie, maar ek is bang ons sukkel finansieel. Ek weet ook nie wat die toekoms vir ons kind in Suid-Afrika inhou nie. Ek is bang vir al die geweld, selfs in die skole waar ’n kind veilig behoort te wees. Is dit reg om ’n baba in die wêreld te bring en te verwag hy moet met al die goed saamleef? Ek is onseker, maar ek word ook nie jonger nie.
ANONIEM
DR. ADRI ANTWOORD
Nee, ek dink nie jou probleem is onbenullig nie, allermins. Om kinders te hê of nie is een van die belangrikste besluite in jou lewe. Ek het groot waardering vir en simpatie met jou wroeging om die regte besluit te neem. Dit op sigself maak van jou ’n meer geskikte kandidaat vir moederskap as vele ander vroue wat net babas produseer sonder om aan die gevolge te dink.
Ek kan nie vir jou sê wat jy moet doen nie. Jy en jou man is immers die mense wat die verantwoordelikheid van ’n nuwe mensie se lewe moet dra. Maar kan ek jou gerusstel? Die vrese wat jy het, is iets wat elke goeie ma ervaar. Eeue gelede het ma’s ook om presies dieselfde redes wakker gelê.
Daar is nooit regtig ’n ideale tyd nie, en ’n mens het kwansuis nooit genoeg geld nie. Maar dink net: Die kinders wat jy liefdevol en verantwoordelik gaan opvoed, gaan ’n verskil aan ons wêreld maak, ’n belangrike verskil. Wat sal gebeur as hulle nie daar is om te help orde skep nie?
Slaap gerus nog ’n paar nagte hieroor, maar moenie te diep slaap nie . . .
Gesels met ons – klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.