Tuesday, 28 October 2008

Boeke


Reuk van die Dood deur Riana Mouton; LAPA Uitgewers; R130

Vroue mag maar spanningsverhale skryf en hierdie nuwe stem in Afrikaans bewys dit weer met ’n vuis-in-die-maag-debuut. Dit is jammer dat talle redigeerfoute byna die boek kelder. Gelukkig het die verhaal oor ’n reeksmoordenaar so ’n naelbyt-pas dat ’n mens dit mis lees.

Daarin duik die lyk van die een vrou nĂ¡ die ander met ’n afgesnyde middelvinger op in Mafikeng. (Toevallig was slagoffers se duime onlangs in ’n ander Afrikaanse spanningsverhaal soek.) Speurder Junior Scheepers moet tussen sy eie demone deur die reeksmoordenaar vastrek. Ooreenkomste tussen ware Suid-Afrikaanse moorde en hierdie misdade laat ’n mens ril.

Wees voorbereid op vloekwoorde, ongebonde seks en grafiese geweld.
En hou maar dop: Junior Scheepers sou selfs Deon Meyer se fiktiewe baasspeurder Zatopek van Heerden oor sy skouer laat kyk.
Pieter van Zyl

Daar’s ’n Gay Pastoor in my Kop deur Philip Liebenberg; Penguin; R190

Kerk en gay word steeds met ’n bitter smaak in die mond saam genoem, veral in Suid-Afrika. Hierdie boek is van die eerlikste vertellings hieroor in Afrikaans sedert ’n Kas Is vir Klere deur Pieter Cilliers.

Philip Liebenberg, voorheen ’n AGS-pastoor, se affair met ’n ander getroude pastoor het ’n paar jaar gelede koerantvoorblaaie gehaal. Nou skryf hy sy intiemste wroeginge uit en kloof selfs die pyn oop wat hy sy eksvrou aangedoen het. Daar is ook ’n gelukkige einde.

Van die mees verhelderende insigte in hierdie boek is dat die Here weet van gay-wees. ‘‘Hy weet dat gays dit soms nog erger het omdat niemand hulle help soek na lewensmaats nie . . .’’ Die vraag wat die skrywer implisiet vra, is: Gaan die kerk aanhou maak dat gay lidmate na liefde op donker plekke soek of dat hulle kan lief wees vir ’n lewensmaat in God se Lig?
Pieter van Zyl

Gesels met ons – klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.