Thursday, 02 October 2008

RESEP VAN DIE WEEK: BLOUBESSIE-MAASKAASKOEK


Fyngebak is dodelik as jy ’n paar kilogramme wil verloor of bloot net gesonder wil eet. Daarby kan koekmeel en suiker die bloedsuikervlakke sommer sleg laat skommel wanneer jy jou aan te veel soetigheid vergryp. As jy dus ’n gesonder blaadjie omgeslaan het, maar van tyd tot tyd tog danig lus raak vir ’n soetigheidjie, is ’n paar baie slim kulkunsies nodig.

Ons het plan gemaak en die suiker sowel as die smeer en meel in die koeke verminder deur dit deels te vervang met vrugte (vir soetigheid), neute of maaskaas (vir smeer) en ander soorte meel soos mieliemeel en hawersemels. Groente soos wortels en patat is plek-plek gebruik om die koeke klammer te kry. Nou kan jy maar weglê sonder om te skuldig te voel.

BLOUBESSIE-MAASKAASKOEK

Geroomde maaskaas vervang die botter in dié lekker koek.

4 eiers, geskei; 180 ml bruinsuiker; 1 houer (250 g) geroomde maaskaas; 250 ml koekmeel; 10 ml bakpoeier; 2 ml sout; 250 ml semolina; 1 ml gerasperde suurlemoenskil; 500 ml bloubessies;
30 – 60 ml geelsuiker; 60 ml amandelvlokkies; ekstra bloubessies vir bo-oor (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 23 cm-koekpan.
Klits die eiergeel effens, voeg die suiker by en klits tot lig en romerig. Voeg die maaskaas by en meng deur. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en sif oor die maaskaasmengsel. Voeg die semolina by en vou dit liggies in. Klits die eierwitte styf en vou dit saam met die skil by die koekmengsel in. Skep in die bereide koekpan en maak gelyk bo-op. Sprinkel die bessies oor. Meng die suiker en amandelvlokkies en sprinkel oor die koek. Bak sowat 60 minute tot gaar en tot ’n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Sprinkel ekstra bloubessies net voor opdiening oor as versiering, indien verkies.

- Huisgenoot van 9 Oktober het nog resepte vir koeke wat byna geen smeer nie en minder suiker en meel bevat.

Gesels met ons – klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.