
Wil skei vir pensioen
Dit is nie juis my gewoonte om raad te vra nie, want ek kry gewoonlik self die antwoorde op my vrae. Ek en my man is nou al langer as 21 jaar gelukkig getroud – dit was van die begin af ’n ideale huwelik. Ek is lief vir my man, en die beste van alles is die gevoel is wederkerig.
Hier is ons probleem: Finansieel trek ons noustrop omdat ons uitgawes ons inkomste oorskry. Met die nuwe pensioenwet het ek gereken ons kan skei. Dan vat ek die helfte van sy pensioen, en ons trou dadelik weer. Niemand sal weet nie, maar dit sal ons help om ons huis te behou. Ek glo dat wat God saamgevoeg het geen mens mag skei nie; daarom sal die egskeiding net op papier bestaan.
Dink jy ek maak ’n bespotting van ons huwelik en dat God ons sal straf? My man wil niks hiervan weet nie, maar vir my lyk dit na die oplossing vir al ons probleme.
Onseker
Dr. Adri antwoord
Wel, wel, wel . . . dit klink regtig asof jy een van daardie soort mense is wat aktief na oplossings soek en nie wag vir wonderwerke om uit die hemel neer te daal soos ’n goeie reënbui nie. Glo my goed, daar is niks mee fout nie; ek het groot respek vir mense soos jy wat weet dat ‘‘wonderwerke’’ ook met ‘‘werk’’ gepaardgaan.
Ek kan werklik nie sê of die plan wat jy bedink om finansieel te oorleef die regte of die beste oplossing is nie, want ek kan nie al die implikasies daarvan voorsien nie. ’n Regsgeleerde sal jou beter kan adviseer; kry dus
beslis professionele raad voor jy enigiets doen.
Maar as dit wettig is en as jy en jou man daaroor saamstem, is hierdie
kreatiewe oplossing baie beter as om finansieel geknak te word. Ek kan sowaar nie daarmee fout vind nie – behalwe as jy ons almal dalk ’n rat voor die oë draai en dit as ’n maklike manier beskou om van jou liewe man ontslae te raak.
Gesels met ons – klik hier. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.
Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.