Thursday, 02 October 2008

VERSEKERING – WAAR SKIET JY TEKORT?


Louise se kleuter het ’n speelgoedfoon in haar ma se skoot-
rekenaar toegeklap – met noodlottige gevolge vir die rekenaarskerm. Louise was ontsteld maar nie te bekommerd nie, want sy betaal maandeliks ’n ruim bedrag aan korttermynversekeringsdekking. ’n Hele paar oproepe later hou haar versekeringsmaatskappy egter steeds voet by stuk: Sy kan nie eis nie, aangesien die rekenaar nooit gespesifiseer is nie – al het sy allerisiko-dekking.

Louise sou haar moeite gespaar het as sy vooraf haar polisdokument gelees het om vas te stel waarvoor sy sonder spesifikasie dekking het, en sommer ook of sy onderverseker is.

Na raming is sowat 40 persent van alle Suid-Afrikaanse korttermynpolishouers onderverseker. Korttermynversekeraars se vereistes oor spesifikasies en sekuriteitsmaatreëls verskil, maar verbruikers moet besef dit is hul eie verantwoordelikheid om seker te maak dat die dinge wat vir hulle waardevol is, wel deur hul versekering gedek word.

Toegegee, dit is dikwels ’n gesukkel om deur polisdokumente te ploeg, maar daar is korttermynversekeraars wat moeite doen om dié dokumente meer lesersvriendelik te maak. As ’n makelaar jou versekering hanteer, behoort dié persoon ook die beperkings van jou polis aan jou te verduidelik.

Sommige versekeraars vereis dat sekere persoonlike artikels gespesifiseer word, al het jy allerisiko-dekking. Dit is byvoorbeeld waardevolle artikels wat rondgedra kan word, soos selfone, vuurwapens, rekenaars, fotografiese toerusting en juwele. Dit word as hoërisiko-besittings beskou en het gewoonlik dekking vir buite die huis nodig. Die meeste versekeraars wil ook ’n waardasie-sertifikaat vir artikels bo ’n sekere bedrag hê.

Onderversekering kan baie finansiële ergernis veroorsaak. Hoe gemaak as jou huisinhoud ’n vervangingswaarde van R200 000 het, maar dit is net vir R100 000 verseker – en dan word R20 000 se goed beskadig? Die versekeraar sal ’n waardeerder uitstuur om ’n waardebepaling van die inhoud te doen. As hulle sien die kliënt is net vir 50 persent van sy eintlike waarde verseker, sal net die helfte van die eis uitbetaal word, dus waarskynlik net R10 000.

Dit loon jou nooit om jou eiendom vir minder as die vervangingswaarde te verseker nie – jy sal te laat agterkom watter duur fout dit is, sê Christelle Fourie van Santam.

- Lees in Huisgenoot van 9 Oktober hoe jy kan seker maak jy is nie onderverseker nie.

Gesels met ons – klik hier en kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.

Klik hier om op die gedrukte weergawe van Huisgenoot in te teken. Ons sal jou terugbel. Kies die Full- of Google-weergawe. Vul jou telefoonnommer in, skryf jou boodskap en stuur en klik op Submit.