Friday, 10 April 2009

Verhuring van eiendom


Is dit die geld werd om ’n agentskap te gebruik om jou eiendom uit te verhuur, vra ’n leser, en wat kan jy doen as ’n huurder nie betaal nie?

Baie mense beskou verhuringsagente as ’n maklike uitweg omdat hulle namens jou ’n klomp werk doen, al is dit teen betaling.

Tipiese dienste is om die eiendom te adverteer, aansoeke te sif en die huurkontrak op te stel.

Jy kan ’n agent vir ’n eenmalige diens nader, en hulle sal ’n huurder soek, die kontrak opstel en laat teken en die deposito invorder.

Daarna is alle onderhandelings tussen jou en die huurder.

Met ’n omvattende diens behartig hulle ook op lang termyn die administrasie van die verhuring. Hulle stuur vir jou as eienaar rekeningstate, samel die huurgeld in, maak werk van agterstallige huurgeld en betaal munisipale rekeninge. Hulle sal ook die onderhoud van die eiendom en herstelwerk namens die eienaar doen, die diensverskaffer betaal en dit weer van jou verhaal. Hulle hanteer dus alle kommunikasie met die huurder.

Dit is baie belangrik dat die agentskap wat jy kies, presies aan die huurder sal verduidelik wat sy verantwoordelikhede is en wat die kontrak behels. Dit is dinge soos wanneer die huurgeld inbetaal moet wees, en as die eiendom in ’n kompleks is, watter reëls geld, sê Andrew Schaefer, besturende direkteur van Trafalgar.

As jy nie ’n agentskap gebruik nie, moet jy self ’n huurder soek en jy kan sit met die kopsere van swak betalers, agterstallige huurgeld, huurders wat reëls oortree en onderhoudskwessies.

Lees meer oor huuragentskappe en -kontrakte in Huisgenoot van 16 April.