Thursday, 02 April 2009

Dr. Adri


Nuwe liefde op 72

Ek is 72 jaar oud en die afgelope 40 jaar alleen. Ek het onlangs ’n man van 69 ontmoet. Hy is stil, drink nie, gaan kerk toe en pla niemand. Hy verdien ’n klein salaris, maar is trots op sy werk.

Sy vrou is twee jaar gelede dood. Hy betoon net die grootste respek teenoor my, dring hom nie op nie en soengroet my net soggens en saans. Ek wil graag hê hy moet my by die huis help, maar ek moet vir hom opdragte gee – hy kan nie self sien wat om te doen nie.

Ek voel hy verwag te veel van my. Die huis word te veel vir my, maar hy kan of wil nie self die nodige doen nie. Moet ek hom lewensreg op my huis gee? Of moet ons die huis verkoop en in ’n aftree-oord gaan bly waar ons rustiger kan leef? Ons is lief vir mekaar en wil graag trou.

Raadop, Potchefstroom

Dr. Adri antwoord

Dit is wonderlik dat jy so lank onafhanklik en selfversorgend was. Duidelik is jy ’n vrou van durf en daad.

Ek is seker almal wens jou geluk saam met ’n sielsgenoot toe en dit is verblydend dat jy ’n sober, goeie man as vriend het, maar iets pla my tog. Hoe lank ken julle mekaar al? Is jy seker jy wil die res van jou lewe saam met hom deurbring? En is hy selfversorgend? Waarom is dit nodig dat hy by jou bly? En veral: Is hy dinamies genoeg vir jou lewendige geaardheid?

Jou vriend voel dalk hy wil nie take oorneem nie omdat dit jou huis is. Boonop het jy dit nog altyd hoogs doeltreffend gedoen. As julle oortuig is dat daar vir julle ’n toekoms saam is, stel ek voor julle maak die speelveld meer gelyk. Dis ’n puik idee om die huis te verkoop wat in elk geval te veel vir jou word, en in ’n oord te gaan woon. Daar sal geeneen van julle die ‘‘baas’’ wees nie.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 9 April.