
AI, DIE DRANK . . .
Jy het geen idee waar jou skoene is nie.
Jy dink die polisiemotor is ’n taxi en swets as hy nie stilhou om jou op te laai nie.
Jy baklei met jouself. Kliphard.
Die drang om alles uit te trek, op die tafel te klim en Fever te sing raak oorweldigend.
Jy het vergeet waar jou huis is.
JOU SKANDE
Dis bitterlik koud op Sutherland. Koos drink in die kroeg. Toe dit looptyd raak, sê die kroegman: ‘‘Jy skuld my ’n aardige klompie geld.’’
‘‘Jammer,’’ sê Koos. ‘‘Ek is platsak die week. Betaaldag is eers volgende Vrydag.’’
‘‘Dis oukei,’’ sê die kroegman. ‘‘Ek sal net jou naam en hoeveel jy my skuld hier teen die muur skryf.’’
‘‘Haai nee!’’ kla Koos. ‘‘Ek wil nie hê al my vriende moet dit sien nie.’’
‘‘Toemaar, hulle sal nie,’’ sê die kroegman. ‘‘Ek gaan net jou parka daaroor hang tot jou skuld betaal is!’’
WONDERLIKE PA
Koos ontmoet ’n pragtige plaasnooi en raak verlief op haar. Haar pa het twee plase in die Bosveld, twee in Natal en een in die Boland.
Koos: ‘‘As ek met jou trou, dink jy jou pa sal ons ’n bruidskat gee?’’
Sannie: ‘‘Ja, Koos.’’
Koos: ‘‘En, Sannie, dink jy hy sal my bestuurder van een van die plase maak?’’
Sannie: ‘‘Ja, Koos.’’
Koos: ‘‘Sal hy my dalk een plaas gee?’’
Sannie: ‘‘Ja, Koos.’’
Koos: ‘‘Sannie, sal jy met my trou?’’
Sannie: “Nee, Koos.’’
L. SAAYMAN, SABIE
AANGEBRAND
Koos is in die wagkamer van die kraaminrigting. Saam met hom is twee ander verwagtende vaders. Die verpleegster kom roep hulle drie om hul babas vir hulle te wys. Een van die babas is baie blas van kleur. Waarop Koos dadelik sê: ‘‘Daardie een is seker myne. My vrou brand alles aan.’’
L. SAAYMAN, SABIE
MOENIE VRA NIE
Koos was effe ongelukkig omdat die dokter hom nooit vra hoe dit met hom gaan nie.
Toe vra die dokter maar: ‘‘Koos, en hoe gaan dit met jou vandag?’’
Koos: ‘‘Ai, Dokter, moenie vra nie!’’
L. SAAYMAN, SABIE
NIE IN DIE KROEG
Piet koop ’n papegaai wat die volkslied kan sing. Hy neem hom toe na die manne toe en wed elkeen R10 dat die papegaai dit kan doen. Nadat almal hul weddenskappe geplaas het, weier die papegaai om te sing. Piet verloor toe al die geld en is baie kwaad terug huis toe.
By die huis raas hy met die papegaai en vra waarom hy nie wou sing nie.
Papegaai: ‘‘Dis oneerbiedig. Jy sing dit nie in ’n kroeg nie!’’
L. SAAYMAN, SABIE
Lees nog grappies in Huisgenoot van 30 April.