
Deuskant die Groot Gariep deur Thomas Deacon
LAPA-uitgewers (R115)
Die oompie op die voorblad met sy viool in die Boesmanlandse grondpad skep die atmosfeer vir hierdie onopgesmukte staaltjies van Suider-Afrika se oudste inwoners. Hoor hoe Thysman sy en sy vrou se besluit verduidelik om nie meer kinders te hê nie: “Nooit gesien nie, Oompie! Kokkelina van my het vir fullstop gestem. En met my stem in die hoed maak dit twee teen nul . . .”
Die sprokie van Blommetjieblou en die Waterslang en die verhaal Gebreekte Rieme sal in jou verbeelding voortleef. Dit vertel van apartheid se Groepsgebiedewet en die gedwonge verskuiwing van die Riemvasmaak-gemeen-skap, maar is ook ’n vingerwysing na die “Niewie Syd-Afferka” waar ontheemde mense hul geboortegrond terugkry sonder hulp om daar te oorleef. Dié boekie sal jou weer en weer laat terugkom vir nog ’n kotiljons saam met hierdie barre wêreld se onblusbare siele. – Pieter van Zyl
Kies Gesond deur Carolié de Koster
LAPA-uitgewers (R175)
Met haar vorige vyf kookboeke het Carolié de Koster, ’n gastehuis- en kookskooleienaar, ons al geleer van lekker kosmaak. Hierdie keer val die klem op gesonde kos: veral volstruisvleis, die vleissoort met die laagste vetinhoud, en wildsvleis. Vir die boek het sy 200 wêreldwye gunstelinge vir ’n gesonde leefstyl aangepas, soos Amerikaanse wildsribbetjie, Marokkaanse volstruismaalvleis-sosaties en Griekse geroosterde vis. Variasies word aangegee om byvoorbeeld volstruismaalvleis met maer beesvleis te vervang.
Voorin verskyn wenke soos dat volstruisvleis vinniger as wild- of rooivleis gaargemaak moet word om te keer dat dit taai word. ’n Wenk wat lekkerbekke sal verwelkom, is dat geblikte spuitroom soveel lug bevat dat dit die vetinhoud daarvan verlaag. Ja, nageregte en gebak is ook nog op die spyskaart! Dis ’n boek vir gesond én lekker eet en ’n aanwins vir jou versameling kookboeke. – Elretha Louw