Thursday, 16 April 2009

Jou Finansiële Risikoprofiel


’n Belegger sonder ’n risikoprofiel is soos iemand wat met sy motor op pad is, maar nie weet waarheen nie. Al wat gaan gebeur, is dat sy brandstof opraak en hy gaan staan langs die pad, sê JB Smith, fondsbestuurder by Dynamic Wealth, toe ek vra hoe hy aan beleggers die belangrikheid van ’n risikoprofiel verduidelik. Ons gesprek volg op ’n lesersvraag oor wat ’n risikoprofiel is en hoe dit werk.

Jou risikoprofiel vorm die bousteen van jou beleggingsplan. Dié plan word opgestel aan die hand van die hoeveelheid blootstelling wat jou belegging aan risiko kan hanteer, en daarom sal finansiële raadgewers altyd ’n risiko-ontleding van jou finansies doen.

Jou risiko word op sy beurt bepaal deur dit wat jy kan bekostig om nou te belê en wat jou opbrengsbehoeftes uit die belegging is, soos spaar vir aftrede of vir jou kinders se universiteitsgeld. Dis egter nie net geld wat ’n rol speel nie, want ’n individu se vermoë en gewilligheid om ’n risiko te neem word ook in berekening gebring, en dit word bepaal deur sielkundige en gedragsfaktore. Dus sal ’n goeie raadgewer jou vra wat jou persoonlike gevoel oor beleggingsverliese is en hoe jy sulke verliese emosioneel sal kan hanteer.

Daar is ’n regstreekse verband tussen die hoeveelheid risiko wat jy neem en die groei van jou beleggings. ’n Algemene beginsel is dat beleggings met lae risiko ook ’n laer opbrengs het. Hoewel die beleggingsomgewing baie wisselvallig kan wees, is die teenoorgestelde gewoonlik ook waar: Hoe hoër die risiko, hoe beter die opbrengs.

Van die vier bateklasse waarin beleggers kan belê, het aandele die hoogste risiko op kort termyn, maar toon ook op langer termyn die beste groei. Effekte- en eiendombeleggings word as mediumrisiko-beleggings beskou, terwyl kontantbeleggings soos geld in ’n spaarrekening die minste risiko dra, maar dit lewer ook die laagste opbrengs op langer termyn.

Lees meer oor jou risikoprofiel en beleggingsmoontlikhede in Huisgenoot van 23 April.