Thursday, 02 April 2009

TRUST IS STEEDS ʼn TOEVLUG


Ná die begroting wat verlede maand aangekondig is, moet daar ook met nuwe oë gekyk word na die rol wat trusts nog in boedelbeplanning speel.

Trusts is ’n gewilde instrument om bates te beskerm en dikwels ’n oplossing vir mense wat sakebelange het en dit apart van hul persoonlike bates wil hou. Bates word deur skenkings en lenings na die trust oorgedra terwyl die persoon nog leef, en onder die beheer van die trustees geplaas. Hierdie bates groei in die trust heeltemal apart van die persoon se boedel. Omdat dit nou eintlik aan die trust behoort en nie meer aan die persoon nie, word dit teen skuldeisers beskerm as daar moeilikheid sou kom.

As die trust korrek geadministreer word, sal kapitaalwinsbelasting, boedelbelasting en eksekuteursvergoeding (dit wat die eksekuteur vir die bereddering van ’n boedel betaal word) ook nie op trustbates van toepassing wees wanneer die trust-stigter sterf nie.

Een van die gewildste gebruike van trusts is vir boedelbeplanning. Dis ook dan juis die gebruik van trusts om onder meer boedelbelasting te vermy wat mnr. Trevor Manuel, die minister van finansies, in die onlangse begroting bespreek het.

As albei gades in ’n huwelik of burgerlike verbintenis hul boedels ten volle aan mekaar bemaak, word geen boedel- of kapitaalwinsbelasting daarop betaal met die dood van die gade wat eerste sterf nie. Kragtens die Wet op Boedelbelasting geld vir albei se boedels ’n belastingaftrekking van R3,5 miljoen per boedel, wat volgens belastingkenners benut behoort te word.
Gestel John en Jennifer is getroud. John bemaak sy boedel van R10 miljoen aan Jennifer. Hy sterf eerste en geen boedelbelasting word op die R10 miljoen betaal nie. Jennifer se boedel was net R2 miljoen, maar groei nou tot R12 miljoen, en haar erfgename sou dan op R8,5 miljoen belasting moes betaal – die bedrag waarop haar boedel belas sal word sou sy sterf.

Daarom dra John die belastingvrye R3,5 miljoen van sy boedel aan ’n trust oor waarvan Jennifer en hul kinders die begunstigdes is.

Lees meer oor trusts in Huisgenoot van 9 April.