
ENERGIESTAFIES
Ons kosredakteur, Carmen Niehaus, het heelwat geëksperimenteer met gesonde hawermoutblokkies met minder meel, vet en suiker. Hoewel dit nie heeltemal bros nie, is kinders steeds gek daarna.
750 ml hawermout
125 ml muesli
125 ml bruinsuiker
60 ml koekmeel
5 ml koeksoda
knippie sout
10 ml fyn kaneel
250 ml droëappelkose, fyn gekap
125 ml droëbosbessies of sultanas
125 ml amandels of pekanneute, grof gekap
20 ml sesamsaad
20 ml pampoensade
20 ml sonneblomsade
125 ml olie
2 eiers, geklits
Voorverhit die oond tot 160 °C en voer ’n koekpan van 24 cm x 18 cm met bakpapier uit.
Meng al die bestanddele behalwe die olie en eiers in ’n groot mengbak. Klits die olie en eiers saam en roer by die res van die bestanddele in. Skep die mengsel in die voorbereide koekpan en druk dit plat met die agterkant van ’n lepel. Bak 25 minute. Laat effens afkoel en sny in blokke. Skep uit en bêre dit in ’n lugdigte houer sodra dit heeltemal afgekoel is.
Maak 16 groterige stafies
Bereiding 10 minute
Gaarmaaktyd 25 minute