Friday, 16 January 2009

Dr. Adri gee raad


Negentien, eensaam en depressief
Ek is negentien, maar voel oud vir my ouderdom. Ek het ’n alkoholis-pa en kon nooit my kinderjare geniet nie, want ek was van sesjarige ouderdom af almal se steunpilaar. Nou het ek geen idee hoe om sosiaal te verkeer met mense van my eie ouderdom nie.

Ek kom goed met ouer mense klaar, maar hulle voel nie so gemaklik om met my te sosialiseer nie. Boonop is ek bo-gemiddeld intelligent en blykbaar baie mooi. Ek dink regtig nie baie van myself nie, maar dis my probleem, want mense van my ouderdom is skaam en voel selfs bedreig deur my.

Dit alles maak my bitterlik eensaam. Ek het die afgelope tyd selfvertroue gekry en ek hou van myself. Ek het goeie morele waardes en is ’n skeppende mens. Maar ek is steeds eensaam en depressief.
Deurmekaar, Mpumalanga

Dr. Adri antwoord
Jy sal gou leer dat sagtheid, vriendelikheid en opregtheid almal se hart steel, oud en jonk.

Leer ook om ’n bietjie weg te kom van jouself en eerder belangstelling in jou kennisse en vriende se lewe te toon. Glo my, hulle sal gedy en jou geselskap opsoek, want vriendskap wat onselfsugtig gegee word, word altyd beantwoord.

Alles tel in jou guns om ’n sukses van jou lewe te maak, weet jy? Leef jou lewe!

Maak so maklik nuwe vriende

Probeer ’n positiewe lewensuitkyk kweek – selfbejammering en negatiwiteit skrik mense af. Sorg dat jy altyd iets interessants het om te vertel en leer om mense te laat lag.

Wees vrygewig en mededeelsaam – jy kan nie vriendskap koop nie, maar gee rojaal van jou tyd. Verras iemand met ’n baksel beskuit of koekies.

Sluit by ’n sosiale klub, soos ’n leeskring, aan of raak betrokke by kerkaktiwiteite waar jy nuwe vriende kan maak. Jy kan ook uitreik na mense wat swaarkry.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 22 Januarie.