Friday, 09 January 2009

Dr. Adri gee raad.


TWIS OOR TWEE KERKE

Ek is in die dertig. Ek is nou ’n jaar getroud nadat ek en my man vyf jaar uitgegaan het. Ons het groot probleme en die grootste hiervan is die kerk. Ons behoort nie tot dieselfde kerk nie. Ek weet ’n vrou moet na die man se kerk oorgaan, maar in my hart voel dit nie reg nie. Ons baklei baie omdat my man my dwing om na sy kerk te gaan.

Ons het nog nie kinders nie, maar ons baklei oor die name van ons toekomstige kinders. As dit ’n seun is, moet die seun my man se name kry, sê hy. Ek voel anders oor die saak. Ek het nou gesê, goed, die kind kan sy name kry in ruil daarvoor dat hy my toelaat om na my kerk te gaan. Ek sal soggens na my kerk gaan en saans na sy kerk. Hy wil dit nie aanvaar nie, en nou gaan ons glad nie kerk toe nie. Ek wil net nie hê hulle moet my dwing om belydenis van geloof af te lê nie.

MOEDELOOS

DR. ADRI ANTWOORD

Daar is ’n spreekwoord wat regstreeks op jou en jou man van toepassing is: ‘‘Twee gelowe op een kussing, en die duiwel lê daartussen.’’ Julle kom nooit meer in enige kerk nie. Ál een wat daarom in hierdie saak wen, is die spreekwoordelike duiwel wat tussen julle op die kussing lê.

Dit gaan my verstand te bowe dat julle in die vyf jaar voor jul troue nie hierdie saak bespreek het nie. Soos dinge nou is, lyk dit nie of jul huwelik veel langer as hierdie een jaar gaan hou nie, want julle misbruik jul geloofsverskil om al die ander probleme aan die hare by te sleep. A nee a!

Dis nou te laat om te sê julle moes hierdie saak voor die troue uitge-praat het, maar hopelik besef julle julle moet dit baie gou doen – en soos verantwoordelike en ruimdenkende grootmense. Lidmaatskap van ’n kerk is nie ’n ligtelike saak nie. Ek weet nie van daardie reël wat bepaal ’n vrou moet na haar man se kerk oorgaan nie; dit klink vir my erg paternalisties. Moet dit daarom nie doen as jy nie oortuig is en dit opreg bedoel nie.

Is dit nie tyd dat julle saam na ’n pastorale sielkundige gaan nie? Gaan met ’n oop gemoed en sonder om beuselagtighede te betrek soos die name van kinders – wat julle nog nie eens het nie. En doen dit tog voor julle besluit om kinders te kry, want netnou het die arme kinders twee kerke, twee stelle name én twee huise.

Dr. Adri gee nog raad oor lief en leed in Huisgenoot van 15 Januarie.