Friday, 16 January 2009

Geldelike noodhulp


Motorongelukke, brande en sterfgevalle . . . Wie verwag nou ooit dat sulke dinge oor jou pad sal kom? Maar dit beteken nie jy hoef finansieel onkant betrap te word nie.

Daar is ’n paar dinge in jou finansiële noodhulpkissie wat ’n krisis kan help versag. Die eerste is ’n noodfonds. Kenners sê dis veilig om twee tot drie maande se salaris beskikbaar te hê om vir ’n krisis voorsiening te maak. Jou noodfonds moet maklik beskikbaar wees. Dit moet ook nie juis aan markrisiko’s blootgestel wees nie, omdat jy sekerheid moet hê oor die bedrag wat wel beskikbaar sal wees.

Die tweede produk in jou noodhulpkissie is ongeskiktheidsdekking. As jy vir elke R1 miljoen wat jy aan ongeskiktheid ontvang, sowat R4 500 per maand aan die fonds onttrek, sal jou geld ná sowat 25 jaar uitgeput wees. As jy dus op veertig ongeskik raak en jou behoefte aan inkomste is R10 000 per maand en jou dekking betaal R2,2 miljoen uit, sal jou geld op wees as jy 65 is.

Die Wet op die Padongelukfonds is pas gewysig en vereis van jou groter ongeskiktheids- en mediese dekking as in die verlede. As jy nou in ’n motorongeluk ongeskik raak, kan jy nie meer onbeperkte vergoeding eis nie. ’n Eis vir verlies aan inkomste weens ’n padongeluk word nou beperk tot R160 000 per jaar, ongeag hoeveel afhanklikes jy het en of jy dalk drie keer meer verdien.

Dit bring ons by die derde deel van jou noodhulpkissie: mediese dekking. Mediese skemas pas hul voordele jaarliks aan, daarom kan jou voordele nou verskil van wat dit verlede jaar was. As jy net hospitaaldekking het, moet jy uitvind wat die beperkings is en in watter mate nooduitgawes soos motorongelukke, chroniese medikasie en dag-vir-dag-uitgawes gedek word.

Die laaste deel van jou noodhulpkissie is jou testament. As jy iets oorkom, sal ’n goed en bowenal korrek opgestelde testament jou reeds getraumatiseerde familie verdere probleme spaar. Dit is belangrik dat jy ’n kenner moet vra om jou te help met die opstel daarvan om te verseker dat die testament maklik beredder kan word.

Lees in Huisgenoot van 22 Januarie meer oor hoe jy kan keer dat onvoorsiene gebeure jou finansieel onkant betrap.