
Die oordaad van die feestyd is agter die rug en jou lyf hunker na gesonde kos – lig, voedsaam en tog smaaklik. Maar ai, die gewone regruk-planne klink so vervelig dat ’n mens kort ná ontbyt op die eerste dag al wil tou opgooi. Ons geregte is gelukkig so lekker dat jy sommer die hele jaar deur daaraan gaan smul.
BONE-TAMATIESLAAI EN MIELIEMEEL-PLATBROOD
Sit hierdie interessante maar verspot maklike slaai van gesoteerde tamaties en bone op ’n mieliemeel-platbrood voor.
SLAAI
30 ml olyfolie; 500 g (2 houertjies) gemengde baba-tamaties; 15 ml balsemieke asyn; bruinsuiker na smaak; sout en peper na smaak; 1 blik (440 g) rooi nierbone, gedreineer; ¼ komkommer, in klein blokkies gesny; ’n paar swart olywe; ’n paar vars basilieblare
Verhit die olie in ’n groot pan en roerbraai die tamaties tot die skil net-net begin oopbars. Sprinkel die balsemieke asyn oor, asook ’n bietjie suiker indien verkies. Geur na smaak met sout en peper. Verwyder van hitte. Meng die bone, komkommer en olywe by, geur goed met sout en peper en sprinkel nog asyn en olyfolie oor indien verkies. Sit voor op die mieliemeel-platbrood en garneer met vars basilieblare.
MIELIEMEEL-PLATBROOD
Die brood is basies gekookte mieliepap wat jy in ’n koekpan vasdruk en dan bak. Jy kan selfs koue, stywe oorskiet-mieliepap gebruik.
750 ml warm water; 5 ml sout; 750 ml braaipap; 45 ml olyfolie; ’n paar vars takkies roosmaryn
Giet die water en sout in ’n kastrol en bring dit tot kookpunt. Roer die mieliemeel by en meng baie goed. Verlaag die hitte en kook 20-30 minute, roer elke nou en dan om te voorkom dat dit aanbrand. Druk dit vas op die boom van ’n goed gesmeerde losboompan van sowat 23 cm in deursnee. Smeer met olyfolie en druk die roosmaryntakkies losweg in die mieliepap. Sit vir sowat 5-10 minute onder die vooraf verhitte oondrooster of tot goudbruin langs die kante.
Variasie: Die tamatieslaai kan ook saam met gebakte patat voorgesit word.
In Huisgenoot van 29 Januarie is nog watertandlekker planne vir verfrissende geregte wat jou wonderlik sal laat lyk en voel.