Thursday, 22 January 2009

Dr. Adri gee raad


ONSEKER OOR INTERNET-LIEFDE
Ek het ’n man eers via die internet leer ken en hom toe persoonlik ontmoet. Ek wil hom graag weer sien, maar voel onseker en bang.
Twee weke ná ons ontmoeting het hy vir my gesê hy het my motor se registrasienommer geneem en só my adres in die hande gekry. Hy werk vir die SAPD.

Ek is geskok, want my huis is ál plek waar ek veilig voel. Hy het dit betree. Ek het dit aan hom verduidelik, maar hy weier om te verstaan. Hy sê hy wou net vir my blomme stuur, maar ek voel hy kon my privaatheid gerespekteer het.

Ek is bang as ek hom weer sien, sal hy iets anders gebruik om nog inligting oor my te bekom.
ANONIEM

DR. ADRI ANTWOORD
Vertrou gerus maar jou intuïsie. Hy werk dalk by die organisasie wat na ons veiligheid moet omsien, maar hy het hom beslis nie soos ’n eerbare man gedra nie. Hy het ’n vertroulike inligtingstelsel vir persoonlike gewin misbruik en dit is op sigself ’n vorm van korrupsie.

As hierdie Neanderdal-man nie verstaan hoe jy hieroor voel nie, sal hy ook niks anders verstaan van dit wat in ’n eerbare verhouding belangrik is nie. En as hy regtig vir jou blomme wou stuur, sou jy dit mos al gekry het.

Ek is nie ’n voorstander van internet-verhoudings nie. Dit kán werk, maar dan moet albei partye die reëls nakom wat wedersydse respek en privaatheid betref.

WENKE

Bly só veilig op die internet

Moenie persoonlike besonderhede soos jou naam, e-posadres, selfoonnommer of foto’s van jouself of vriende aanlyn of in kletskamers verstrek nie. Gebruik eerder ’n skuilnaam.

Moet nooit e-posse van vreemdelinge oopmaak nie, want dit kan virusse of spioenasieware bevat wat jou rekenaar kan beskadig.

Moet nooit jou bankbesonderhede aanlyn verstrek nie. Pas op vir verdagte e-posse wat kastig van ’n bank of maatskappy kom en persoonlike of sensitiewe inligting vra. Maak seker dit is eg.

BONUSWENK

As jy iemand persoonlik wil ontmoet met wie jy aanlyn vriende gemaak het, doen dit op ’n openbare plek en vertel jou vriende en familie daarvan.

Dr. Adri gee nog raad in Huisgenoot van 29 Januarie.