
Op ’n Hoë Noot: Die Lekkerste Stories van P.H. Nortjé saamgestel deur Danie Botha; Tafelberg; R165
Die titel sê eintlik presies wat jy kan verwag: lekkerlees- en dikwels lekkerlag-sketsverhale soos net ’n gesoute verteller dit kan doen. Dit is ’n omvattende keur uit die oeuvre van hierdie man wat met soveel humor, nostalgie en insig kan skryf.
Van die stories is gekies om sy bekroonde jeugverhale, Pennie se Vuur (1959) en Die Groen Ghoen (1960), in herinnering te roep. Drie hoofstukke kom uit Die Wildedruif Val en vertel die spannende, ware verhaal van die vloedramp in 1916 in die Baviaanskloof.
Nog vertellings strek oor ’n paar generasies tot in die negentigerjare en daarin word onder meer die vele avonture van sy drie ‘‘bulletjies’’ en hul ‘‘Oupa Grootbul’’ beskryf, en ook die wedervaringe van sy geliefde Wellingtonse gemeenskap en gemeente, kollegas en studente.
Baie van hierdie sketse het destyds in Huisgenoot verskyn en hierdie veteraan-skrywer het ’n hele generasie se leesliefde aangewakker.
Kom Ons Leer Van . . . Diere; Penstock Publishing; R149
Hierdie elektroniese hardebladboek propvol prettige illustrasies bestaan uit ses afdelings. In elk is drie vrae met ’n paar moontlike antwoorde daarby. By die vraag ‘‘Weet jy watter van hierdie diere ‘piep-piep’ maak?’’, moet die kind byvoorbeeld tussen ’n perd, ’n kuiken, ’n skaap en ’n haan kies.
By die boek is ’n wondermuis van plastiek met batterye in sy maag. Kinders sit die muis se neus op hul antwoord en druk dan die geel knoppie op sy kop. As hul antwoord reg is, gaan die groen liggie in die muis se regteroog aan en hy maak triomfantelik: ‘‘Ra-ta-ta-ta-taaaa!’’ Maar die verkeerde antwoord laat die rooi liggie in die muis se linkeroog aangaan en hy maak ’n ‘‘oooooooooo’’-geluid.
Hierdie leersame boek oorbrug die kloof tussen die elektroniese en die gedrukte media op ’n oorspronklike manier. Dit is geskik vir kinders van vier jaar en ouer.